

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 February 2013
Die 65-jarige Alexander Smail van Buysdorp se moordverhoor het vandeesweek begin.
Smail het Maandag weer in die Louis Trichardt Streekshof verskyn. Hy word daarvan beskuldig word dat hy twee jong mans van die Buys-gemeenskap, Cornelius Bruce Joachim (20) en Sergio Bozario Buys (21), koelbloedig doodgeskiet het. Buiten die twee klagte van moord, staar hy ook twee klagte van poging tot moord in die gesig.
Dié insident het in Desember 2009 plaasgevind naby Smail se onderneming in Buysdorp. Smail het glo net vóór die skietery gedreig om Joachim en Buys, asook twee van hul vriende, te skiet omdat hy daarvan oortuig was dat hulle by sy onderneming, Smails Fountain, ingebreek het. Buys is in die kop getref en Joachim in die bolyf. Albei is op die toneel dood, terwyl hulle vriende daarin kon slaag om weg te kom.
Ná die skietvoorval het Smail homself aan die polisie oorgegee en sy vuurwapen ingehandig. Hy is 'n dag later op R5 000 borg vrygelaat.
Tydens Maandag se verskyning het Smail se regsverteenwoordiger ‘n verklaring voorgelees van ‘n mediese deskundige wat uitgewy het oor Smail se geestestoestand en gesondheid. Dié verslag is ingedien om die hof daarvan te probeer oortuig dat Smail nie by sy volle verstand was tydens die skietvoorval nie. Die Staat het egter gevoel dat die verslag hul saak teen Smail sterker maak.
Smail se saak is ná die indien van die verslag weer uitgestel om die Staat kans te gee om hul verweer voor te berei. Hy sal weer op 16 April in die hof verskyn.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
