ADVERTISEMENT:

 

Lede van die Makhado Polisie saam met lede van die Soutpansberg Dorpswag besig om die verdagte in hegtenis te neem vir verdere ondervraging. Omdat die man aan Tannie Mesie se beskrywing voldoen is hy na die polisiestasie geneem vir verder ondervraging.

Vrou helder oordag slagoffer van roof

 

News  Date: 08 February 2013

 

‘n Rower het Maandag helderoordag ‘n vrou van Makhado (Louis Trichardt) oorval en van haar hele maand se inkomste beroof.

Mev. Catherina du Plessis, beter bekend as tannie Meisie, is Maandag naby die hoek van Erasmus- en Cellierstraat deur ‘n onbekende man aangeval en beroof. Sy was te voet op pad terug na haar huis in Cellierstraat toe die man haar handsak gegryp het.

Tannie Meisie het vroeër haar ma, wat bedlêend is, se pensioengeld gaan trek. Die gesin is afhanklik van hierdie geld om hul rekeninge te betaal.

Met die terugstap huis toe het ‘n man haar handsak afgeruk en die hasepad gekies. Die voorval het naby Die Grasdak plaasgevind en die man het dáár die bosse ingevlug.

Omstanders, wat Tannie Meisie se benoude hulpkrete gehoor het, het haar vinnig te hulp gesnel. Lede van die Soutpansberg Dorpswag, asook die Makhado SAPS, was vinnig op die toneel, maar kon geen spoor van die verdagte kry nie.

Dorpswaglede het later van die toneel afgestaan en tannie Meisie het haar verklaring aan die polisie gegee. In haar handsak was al haar ma se  pensioengeld en pensioenkaart, asook tannie Meisie se identiteitsboekie en ander winkelkaarte.

‘n Merkbare ontstelde tannie Meisie is bygestaan deur van die mense wat haar gehelp het en huis toe gevat het sodat sy haar bank- en winkelkaarte kon kanselleer.

Kort hierna is ‘n verdagte, wat aan tannie Meisie se beskrywing voldoen, opgemerk waar hy in Cellierstraat afstap. Die dorpswag en polisie is weer gevra om te kom help en die verdagte is by die parkie in Rissikstraat voorgekeer, waar die polisie hom ondervra het.

Daar is ook ‘n hoeveelheid kontant in sy besit gevind. Sy verduideliking aan die polisie was dat dit sy salaris was wat hy by sy werkgewer ontvang het.

Omdat die man glo ‘n Zimbabwiër is, is hy deur die polisie in hegtenis geneem sodat sy paspoortbesonderhede nagegaan kon word. Die polisie sou ook ondersoek instel na die beweringe wat die man rondom die geld gemaak het.

Dié man het Dinsdag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van roof. Hy kan in hierdie stadium nie geïdentifiseer word nie, omdat hy nog nie gepleit het nie.

Sy saak is uitgestel tot en met 27 Februarie om die polisie kans te gee die saak te ondersoek.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines