

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 February 2013
“Moet hier eers weer ‘n kind doodgery word voordat die munisipaliteit iets doen?”
Dit was die vraag wat mnr. Henry Denner, hoof van Hoërskool Louis Trichardt, aan die Makhado Munisipaliteit gevra het.
“Ek het vir die waarnemende burgemeester [me. Mildred Sinyosi] en die afvaardiging wat ons skool op 17 Januarie met ons uitslae kom gelukwens het, gesê dat daar ‘n paar jaar gelede ‘n kind op ‘n motorfiets doodgery is, omdat die munisipaliteit nie gehoor gegee het aan die gedurige versoeke van die skool om spoedwalle te bou nie. Eers na die dood van die kind het hulle die spoedwalle kom bou," het Denner gesê.
Sedert September 2011 sukkel die hoërskool met die padwerke in Andersonstraat wat net nie kan klaarkom nie. Die kinders stap in die strate, omdat die sypaadjies vol bourommel lê. Om die situasie nog onveiliger te maak, het ‘n stroom riool vir weke lank in Andersonstraat afgeloop. Motoriste wat vir die rioolstroom uitgeswaai het, het telkens ook die kinders wat nie in die riool wou stap nie rakelings gemis. Denner het ook dié probleem met Sinyosi opgevat tydens haar besoek.
Sinyosi het daar en dan ‘n oproep gemaak en die verstopte mangat is binne 'n uur oopgemaak. Ongelukkig het die volgende mangat, slegs tien meter daarvandaan, op 21 Januarie begin oorvloei. Dit het daaglikse oproepe vanaf die skool, aanmoediging van die DA en dreigemente gekos, voordat die tweede mangat uiteindelik einde Januarie oopgemaak is.
Vir die ouers was hierdie slakkepas waarteen die munisipaliteit reageer net onaanvaarbaar en op 28 Januarie is daar tydens ‘n beheerliggaamvergadering besluit dat die ouers self die probleme gaan begin aanspreek. Die verwyder van die bourommel was eerste op die lys.
Op Vrydag, 1 Februarie, het die werk begin. Ouers het masjinerie en bakkies geleen, werkers gegee en self ook kom werk. Saterdag het selfs ‘n paar leerlinge kom handjie bysit. Teen Maandagmiddag was die straat se netjiese voorkoms opvallend en op die parkeerlaan reg langs die tennisbaan was daar nie ‘n krieseltjie bourommel te bespeur nie.
“Nou kan die busse darem weer hier stop,” het Divan Harmse gesê. “Mense kan nou sien hoe skoon ons skool is,” het Llewellyn Rowles trots bygevoeg. Die twee is albei Graad 8-leerlinge.
“Trotse Triegie” is die skool se leuse vir hierdie jaar.
“Die beheerliggaam se groot inisiatief pas dan ook in by ons leuse,” het die adjunkhoof, mnr. Theo Muller, gesê en verwys na die goeie gees onder die ouers.
“Ek is hier omdat ek omgee vir die kinders, die skool en die dorp. Ek moet my werk los om hier te wees,” het een van die ouers, mnr. Hennie Coetzee, Maandag gesê.
“Dit is interhoër oor twee weke en dit is hartseer dat dit so sleg hier gelyk het, terwyl miljoene aan kontrakteurs betaal is,” het mnr. Jacques Bouwer, wat sy arbeiders van die plaas af gebring het, gesê.
“Ons help graag, maar eintlik is dit ‘n onbillikheid - dit is die munisipaliteit se werk!” het mnr. Johan Laubser gesê.
Intussen het die kommunikasieafdeling van die munisipaliteit laat weet dat ‘n kontrakteur vanaf Maandag in Munnik-, Stubbs- en Andersonstraat besig sal wees. Maandag was daar egter geen teken van enige kontrakteur in Andersonstraat nie.
“Baie dankie aan die beheerraad vir die inisiatief. Hulle en die ouers het regtig hard gewerk,” het Denner gesê.
Mnr. Pieter Leonard, beheerraadslid vir terrein en geboue, is al werkende aangetref. Hy was die dryfveer agter die projek.
Elke beheerraadslid, ouer en lid van die gemeenskap wat toerusting en arbeid of verversings gegee het, word bedank, insluitende Rampie Gilfillan van Lenaka Plant Hire, Stanley Thompson van Thompson Motors, Jaco Oberholzer van Delta Blue, Rubicon, Helena Grobbelaar, Jacques Bouwer en Jimmie Moodie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
