ADVERTISEMENT:

 

Generic Image

AfriForum wag, maar Vhembe daag nie op

 

News  Date: 11 February 2013

 

Te midde van die voortslepende waterkrisis het ‘n afvaardiging van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) nie daarin geslaag om ‘n vergadering met AfriForum betyds by te woon nie.

Die vergadering sou aanvanklik op Maandag (4de) in Makhado (Louis Trichardt) plaasvind, maar dit het nie. Daarna sou die vergadering Dinsdag om 14:00 plaasvind, met 'n perskonferensie om 15:00, wat ook nie plaasgevind het nie.

“Die vergadering met AfriForum het misluk omdat die sluiting van die pad weens ‘n padongeluk die Vhembe amptenare verhinder het om in Makhado uit te kom,” het VDM woordvoerder mnr. Matodzi Ralushai Dinsdagaand per SMS gesê.

Die VDM is die wateroutoriteit wat water aan Makhado (Louis Trichardt) moet verskaf. Die plaaslike AfriForum-tak sê dat die tyd van mooipraat verby is en dat hulle opdrag gegee het dat die regsprosesse vir minagting van die hof in werking gestel word. AfriForum het in Oktober verlede jaar ‘n hofbevel teen die VDM verkry.  Die doel van hierdie week se vergadering sou ingesluit het ‘n deeglike bespreking van dié hofbevel.

“Ek vind dat Vhembe se fokus nie op die hofbevel is nie. Daar word gesê dat ons na die groter prentjie moet kyk, soos na die Nandonidam se nuwe pypleiding. Ek het die waarnemende tegniese bestuurder van Vhembe telefonies gevra of hy die hofbevel gelees het en hy het te kenne gegee dat hy nie bewus was dat daar ‘n hofbevel teen Vhembe is nie!” het die plaaslike AfriForum voorsitter, mnr. Wally Schultz, Dinsdagmiddag gesê.

Kommentaar oor die dreigende regsprosesse vir minagting van die hof is van Vhembe gevra.

“Wat die saak (issue) van die hof betref, bly die munisipaliteit steeds toegewy daaraan om water te verskaf, maar respekteer ook die regsisteem. Ons is oortuig daarvan dat die oplossing by ons almal saam lê,” het Ralushai gesê. Hy kon nie ‘n tydsraamwerk in verband met die voltooiing van die Nandoni-pypleiding gee nie, maar het gesê dat daar mettertyd met alle rolspelers gekommunikeer sal word.

“Die ironie is dat die waterkrisis nou erger is as voor die hofbevel. Dit lyk of dinge buite beheer is. Die persoon wat die finale verantwoordelikheid moet aanvaar, is die munisipale bestuurder van Vhembe,” het Schultz gesê en ‘n vergadering met hom vir Donderdag geskeduleer. “Donderdag se vergadering het egter geen relevansie om die minagting van die hof te keer nie. Vhembe het reeds hul spertye gemis. Dit is net om kontak te bewerkstellig om die werk gedoen te kry,” het Schultz gesê.

Intussen is die groot vraag: “Waar is die water?” Op 5 Februarie het Ralushai gesê dat “Makhado nog water ‘uitdagings’ beleef, maar dat dié verdienstelike saak aandag geniet” en dat die watervoorsiening sal verbeter.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines