

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 July 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Nuwe intrekker in die dorp, mev. Lunien Claassen, is Maandag (15de) verras deur die goeie diens van die SAPD, nadat sy 'n ware blou Maandag beleef het.
Mev. Claassen het die oggend 'n onaangename verrassing gekry toe sy by haar Overpark-woonstel opdaag en vind dat daar ingebreek is. Sy bewoon die woonstel nog net 'n paar dae lank. Sy het pas besluit om in die week in die dorp te woon, nadat sy vir twee jaar elke dag vanaf hul plaas op Waterpoort ingery het.
By die ontdekking dat hulle minus twee duvets, 'n videomasjien, naaimasjien en karradio (nog nuut in die verpakking) is, het sy die polisie geskakel. Wat was haar verbasing toe twee polisie beamptes binne tien minute opdaag en haar dadelik vra of sy nie dalk duvets vermis nie. Mnr. Cliff Mtobeni het haar vertel dat 'n ander polisiebeampte wat in Leeustraat woon, die Sondagaand mense met duvets in die straat sien stap het en dat hy dadelik daarvan werk gemaak het.
Mev. Claassen sê dat sy vol lof is vir die vriendelikheid van die twee polisiebeamptes wat dadelik na haar woonstel uitgekom het. Hulle het haar aangeraai om dadelik na die polisiestasie te gaan om die duvets uit te ken.
Nadat hulle haar verklaring afgeneem het, is sy na die polisiestasie, waar sy weereens oorweldig was deur die behulpsaamheid van die beamptes.
"Seker tien mense het my kom vra of ek al gehelp is. Dit was vir my 'n wonderlike ervaring na die skok van die 'ontvangs' wat die misdadigers in Louis Trichardt vir my gereël het. En wonder bo wonder was dit toe my duvets daar by die polisiekantoor," sê 'n dankbare mev. Claassen.
"Buiten dat ek Maandag die huisbraak by my woonstel ontdek het, is die munisipale werker ook naby my werk geskiet en het ek verder op 'n motorongeluk in Songozwistraat afgekom die middag," vervolg mev. Claassen. "Maar die diens van die SAPD was vir my 'n riem onder die hart."
Teen druktyd was die ander gesteelde goedere nog nie teruggevind nie.

ADVERTISEMENT:
