ADVERTISEMENT:

 

Me. Chantel Lamprecht, wat Vrydagaand deur 'n onbekende man in die been gewond is en tans tuis aansterk, saam met haar kêrel, Bennie Landman.

Vrou in been gewond ná man op hulle losbrand

 

News  Date: 15 February 2013

 

Die polisie in Makhado (Louis Trichardt) is tans op soek na ‘n man wat Vrydagaand genadeloos op inwoners begin skiet het.

'n Jong vrou van die dorp, me. Chantel Lamprecht, is deur die man in die been gewond. Dit blyk dat roof moontlik die man se motief was.

Volgens Lamprecht  het sy en haar kêrel, mnr. Bennie Landman, omstreeks 23:00 vanaf die Rugbylapa huis toe gestap. Naby die Spar-besigheidskompleks in Songozwistraat het die onbekende skieter skielik uit die donker verskyn en met ‘n vuurwapen op hulle losgebrand.

“Ek het ‘n geskreeu  ‘n entjie agter ons gehoor en toe ek omdraai, toe word daar op ons geskiet,” het Landman Maandag gesê. ‘n Koeël het Lamprecht in haar regterbeen getref. Sy het eers agtergekom sy is gewond toe haar been begin lam word het en haar voete onder haar ingevou het.  Wonderbaarlik het die koeël nie die hoofslagaar in haar been getref nie.

Ná die skietery het die man doodeenvoudig omgedraai en weggehardloop. “N1 se kant toe,” is al wat Landman onthou.

Gelukkig was daar ‘n ooggetuie wie se selfoon hy kon leen om hulp te ontbied. Nog ‘n verbyganger, mnr. Collin Gamble, het onmiddellik gestop en die dorpswag en polisie ontbied.

Met die polisie se aankoms op die toneel is die paartjie meegedeel dat dieselfde aanvaller klaarblyklik kort voor die skietery op hulle nog mense probeer beroof het. Hul beskrywing van die man het ooreengestem met dié van ‘n man wat kort tevore drie sekuriteitswagte naby Shoprite in Krugerstraat met ‘n wapen gedreig en probeer beroof het. Die man het blonde hare en het 'n pet opgehad; hy was geklee in ‘n donker oorpak.

Vir Landman en Lambrecht was die aanval 'n groot skok gewees. Hulle stap gereeld en dit is die eerste keer dat so iets met hulle gebeur. "Dit was nie eens so laat gewees nie," het die twee gesê.

Lamprecht sterk tans tuis aan, nadat sy Maandag uit die hospitaal ontslaan is. Die koeël is nog steeds in haar been. Sy sê dokters wil eers kyk of dit nodig sal wees om die koeël te verwyder as haar wond gesond is.

Intussen het die woordvoerder van die Makhado SAPD, kapt. Maano Sadike, bevestig dat die verdagte nog op vrye voet verkeer. Daar word twee sake van gewapende roof en een saak van poging tot moord ondersoek. Enige iemand met inligting kan die polisie se hulplyn skakel by tel. 082 319 9638.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines