ADVERTISEMENT:

 

generic image

Nuwe minimum loon lei tot afleggings op plase

 

News  Date: 18 February 2013

 

Mnr. Doors Le Roux, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), het die afgelope week heftig gereageer ten opsigte van die nuut-aangekondigde minimum loon vir plaaswerkers en gesê dat talle boere reeds begin het met afleggings.

Die nuwe minimum loon van R105 per dag is op 4 Februarie deur die Minister van Arbeid, me. Mildred Oliphant, aangekondig en sal vanaf 1 Maart in werking tree. Dit geld vir plaaswerkers wat nege uur en langer per dag werk. Die minimum maandelikse salaris is vasgestel op R2 274,82, en die uurlikse loon is R11,66. Die lone sal oor die volgende drie jaar verhoog word na aanleiding van die verbruikersprysindeks plus 1,5%.

Volgens Le Roux het hulle verlede week ’n blitsopname in die SDLU gebied gedoen. By 20 boere is daar reeds 473 werkers afgelê.

“In een boerevereniging gebied is daar tans 1 784 werkers en daar word beplan om 673  werkers voor 1 Maart te laat gaan. Een boer alleen gaan, uit 150 werkers, 50 minder maak. Nog ‘n boer het normaalweg 250 werkers en het reeds 150 laat gaan en beplan om nog 50 minder te maak. Meer en meer werk boere alleen sonder arbeiders, wat natuurlik die veiligheidsrisiko ook baie verlaag,” het Le Roux gesê.

Le Roux meen dit is duidelik dat die regering se “endemiese onbekwaamheid en doodgewoon swak kennis en verstaan van die mees basiese beginsels van die vryemark ekonomie nou duidelik sigbaar is.” Volgens hom gaan Suid Afrika ten gronde, omdat “sogenaamde leiers aangestel word op grond van politieke lojaliteit en nie op grond van staatsmanskap, leierskap of visie nie.”

Le Roux het gesê dat dit nie moeilik is om die direkte impak van die verhoging op die boer/produsent uit te werk nie. “Lone word met 50% verhoog. Selfs onder die mees ideale toestande en aggressiewe ekonomiese groei kan geen bedryf of besigheid so ‘n verhoging hanteer nie,” het hy gesê.

Wat die maandelikse impak betref, het Le Roux gesê dat ‘n klein boerdery met 10 arbeiders teen die huidige loon van R69,39 per dag tans ’n loonrekening van R14 736 per maand het. “Teen die nuwe vasstelling van R105 per dag sal dit R22 300 per maand kos - ‘n toename van meer as R90 000 per jaar,” het Le Roux gesê.

Medium boerdery met 20 arbeiders se maandelikse loonrekening is tans R29 472, maar sal vanaf 1 Maart na R44 600 per maand verhoog, wat ’n jaarlikse verhoging van R181 536 teweeg sal bring. Die loonrekening vir groot boerdery met 100 arbeiders styg eweneens dramaties. Volgens Le Roux is hierdie boere se maandelikse rekening ongeveer R147 360. Dit sal egter styg na R223 000 per maand, met ‘n toename van meer as R900 000 per jaar.

“Geen onderneming is Vader Kersfees nie. Die vergelyking wat nie deur die agbare kabinetministers verstaan word nie is dat arbeid ‘n kommoditeit is. Dit beteken om jou arbeid vir geld  te verkoop moet jy so produktief wees dat jou werkgewer jou arbeid wil gebruik. Die landbou is die plek waar die realiteit tot werkers in die land sal deurdring,” het Le Roux gesê.

Vir die verbruiker, meen Le Roux, is die skrif aan die muur.

“Die effek sal waarskynlik eerste op die pryse van wintergroente waargeneem word. Dis kontantgewasse met 'n kort siklus en die effek van voorsieningstekorte as gevolg van die besluit om sekere gewasse nie aan te plant nie word vinnig deur die verbruiker gevoel,” het Le Roux gesê. Hy het bygevoeg dat die aanbod mettertyd behoort te stabiliseer namate produkpryse verhoog. Produsente sal weer begin plant indien die verhoogde produkprys vergoed vir die verhoogde arbeidskoste om die gewas te produseer. Hierdie konsertina effek van tekorte op aanbod en aanvraag sal voortduur totdat daar weer balans tussen produkprys en produksiekoste kom.

“Ongelukkig moet iemand die verhoogde produksiekoste finansier en ongelukkig is dit die verbruiker; met ander woorde, jou kos gaan baie duurder word...” het Le Roux gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines