ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Muller Vermaas by die karkas van sy wit renosterkoei. Sy sou in Augustus haar eerste kalf gelewer het. Die bul se karkas is sowat ´n 100m van haar gekry, met altwee die horings wat afgekap is.

Sinnelose slagting

 

News  Date: 18 February 2013

 

Sekuur en sonder om tyd te mors ... ‘n enkele doodskoot elk.

Só is ‘n bees- en wildboer van die omgewing se enigste twee renosters die afgelope week afgemaai in die voortslepende sinnelose slagting van renosters in Suid-Afrika.

Die boer, mnr. Muller Vermaas,  se onthoringde witrenosterkoei  en –bul is doodgemaak deur stropers vir die kort stompies wat weer op hul neuse begin uitgroei het. Eintlik het Vermaas drie renosters verloor, want die koei was dragtig en sou in Augustus haar eerste kalf lewer.

“Ek wil in my hande huil as ek na hulle karkasse kyk,” het Vermaas Dinsdag gesê.

Vermaas boer by Bandelierkop.  Die twee renosters het op sy plaas Joppa,  wat grens aan die Soekmekaarpad en N1-suid, geloop en was ‘n bekende gesig vir motoriste wat gereeld dié paaie ry. Talle mense het selfs gestop om foto’s van hierdie statige diere te neem.

Vermaas het juis vir die renosters se veiligheid in September 2011 beide onthoring. Oor ‘n maand sou die renosters ook na ‘n ander plaas geskuif word.

“Dit maak ‘n mens bitter. Ek sal nie weer renosters koop tot die wetgewing verander nie,” het Vermaas gesê.

‘n Beampte van die Departement Omgewingsake en Natuurbewaring wat op die plaas werk, het Maandag op die renosters se karkasse afgekom. Hy het eerste op die koei afgekom en toe 100 meter verder op die karkas van die bul. Vanweë die graad van ontbinding wil dit voorkom asof die renosters middel verlede week reeds geskiet is.

Beide renosters is met ‘n enkele skoot agter die blad met ‘n swaar-kaliber geweer geskiet. Op die oog af, het Vermaas gesê, blyk dit die werk te wees van ‘n professionele jagter.

Die stropers het die bul se stompies afgekap.  Met die koei word daar vermoed dat hulle dalk onderbreek is, want haar horings was ongeskonde. Daar was egter talle kapmerke, vermoedelik van ‘n byl, aan haar kop.

Vermaas het later toestemming gekry om sy dooie renosterkoei se horings te verwyder. Hy skat die waarde van die renosters, sou hulle nog gelewe het, op sowat R850 000. “Al wat ek het om vir hulle te wys is waardelose horings,” het Vermaas gesê. Die horings kan hy nie eens by sy eie huis aanhou nie. Om veiligheidsredes word dit by ‘n bank toegesluit.

“Ek het R1 miljoen se horings in ‘n bankkluis waarmee ek niks kan doen nie. Die stropers kan egter dit verkoop en maak soos hulle wil, maar ek mag nie. Ons almal wil hê hulle moet die oes van renosterhorings wettig. Dan kan ons die mark oorstroom,"  het Vermaas gesê. Volgens hom sal dit die sinnelose slagting onder dié diere verhoed, aangesien die aanvraag na horings dan sal afneem omdat dit nie meer so 'n lonende bedryf sal wees nie.

Intussen het die polisie se forensiese span begin om die twee karkasse te ontleed. Daar word gehoop dat hulle moontlik die koeëls sal vind vir ballistiese toetse.  Volgens die Departement van Omgewingsake se jongste syfers is daar sedert die begin van die jaar tot Dinsdag hierdie week reeds 82 renosters in die land doodgemaak vir hulle horings. Dié statistieke was nog nie aangepas om Vermaas se renosters in te sluit nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines