

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 July 2002
PLATJAN – Een plaasaanvaller is Maandag (8ste) doodgeskiet, terwyl 'n verdere drie gearresteer is, na 'n mislukte aanval op 'n plaas in die Platjan-omgewing naby die Botswana grens.
Vier mans het omstreeks 07:00 op die plaas van mnr. Koos van Tonder (68) opgedaag en hom vir petrol gevra. Mnr. Van Tonder het hulle meegedeel dat hy nie petrol het nie. Sowat vyf minute later het die vier mans teruggekeer en weer vir mnr. Van Tonder vir petrol gevra. Mnr. Van Tonder het toe die mans versoek om onmiddellik sy plaas te verlaat, waarna hulle in hul voertuig geklim het en 'n ent vanaf die plaas gaan parkeer het.
Omstreeks 08:00 het mnr. Christo van Tonder (32) en drie arbeiders met sy bakkie na 'n stoor op die plaas gery. Hy was onbewus van die gebeure met sy pa vroeër die oggend. Die vier mans het weer teruggekeer en dié keer vir Christo gevra vir petrol. Christo het op sy beurt aan die mans verduidelik dat daar net diesel op die plaas is, maar dat hy saam met hulle sou ry en indien hulle sonder petrol sou gaan staan, hy hulle sal sleep na 'n vulstasie op Alldays. Hy het toe omgedraai en aangegaan met sy werk.
Die volgende oomblik het een van die vier mans 'n gelaaide pistool teen Christo se kop vasgedruk. Sy hande is agter sy rug vasgebind, waarna hulle hom en sy drie arbeiders na die huis begelei het. In daardie stadium het Christo opgemerk dat al vier mans met pistole gewapen was.
Met hul aankoms by die huis, het Christo in die ingangsportaal vasgesteek. In daardie stadium het sy vrou, Marie (31), in die gang opgestap gekom en het hy gepoog om die mans te verhinder om die huis binne te kom. Een van die mans het egter verby hom geglip, waarop Christo vir Marie geskreeu het dat dit 'n gewapende roof is en dat sy moet skiet. Christo en Marie se twee seuns, Gideon (10) en Abrie (13), was op daardie tydstip in die sitkamer doenig.
Marie het dadelik Christo se .270-jaggeweer gegryp wat oor die kapstok gehang het, aangesien hy vroeër die oggend daarmee geskiet het. Sy het op die groep mans losgebrand, waarna 'n hewige skietgeveg tussen haar en die mans ontstaan het. Een van die koeëls het so naby aan Marie se kop verbygetrek dat haar hare daardeur geskroei is. Klein Gideon was ook gelukkig om nie getref te word nie, nadat hy gaan ondersoek instel het oor die lawaai en in die middel van die skietgeveg ingestap het.
Die vier mans het oomblikke later by die huis uitgehardloop en in hul voertuig op die vlug geslaan. Klein Gideon het sy pa, wat steeds vasgebind was, te hulp gesnel en met sy knipmes sy hande losgesny. Christo het op sy beurt sy .270, waarvan Marie die magasyn leeggeskiet het, gegryp en die mans met sy bakkie agterna gesit. Hy het in die ry herlaai en weer het daar 'n skietery tussen hom en die aanvallers ontstaan.
Toe Christo opmerk dat hulle ammunisie skynbaar op geraak het, het hy hulle op hoë spoed van agter ingejaag. Die aanvallers se voertuig het kort daarna buite beheer geraak en toe gerol. Drie verdagtes het uit die voertuig gespring en te voet gevlug. Christo het op sy beurt verbygejaag om sy buurman, wat naby aan die ongelukstoneel bly, van die voorval in kennis te stel.
Een van die verdagtes, wie se slagare in sy nek in die skietery afgeskiet is, is op die ongelukstoneel dood. 'n Verdere drie verdagtes, insluitend 'n vrou wat in die voertuig gebly het en die bestuurder van die voertuig wat in die been gewond is, is later die middag aangekeer na 'n intensiewe soektog. Teen druktyd was die polisie op soek na nog 'n verdagte. Die vermoede bestaan dat hy ook in die skietery gewond is en heel moontlik reeds dood is.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
