

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 June 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Kostebevel is op 8 Junie teen die Minister van Kuns en Kultuur en die Voorsitter van die Suid Afrikaanse Geografiese Raad vir Plekname verkry, ten gunste van die plaaslike Voorsitterskomitee.
Hierdie belangrike verwikkeling in die stryd teen die naamsverandering van Louis Trichardt is aangekondig tydens ‘n vergadering van die Voorsitterskomitee op 8 Junie by die Bergwater Hotel.
Van kardinale belang is ook die feit dat die aansoek van die Voorsitterskomitee in terme van Reël 53 van die Hooggeregshof teen die twee respondente, die Minister van Kuns en Kultuur en die Voorsitter van die Suid Afrikaanse Geografiese Raad vir Plekname, geslaag het. In terme van hierdie aansoek is beide respondente verplig om die oorkonde van die verrigtinge waar daar op die naamsverandering besluit is, te liasseer. Die oorkonde moet dus die notule van die besluit om die dorp se naam na Makhado te verander bevat, asook die verduideliking van hoe by daardie besluit uitgekom is. Die oorkonde is op 7 Junie geliasseer. Dit is ‘n groot stap vorentoe vir die Voorsitterskomitee.
Die Voorsitterskomitee bestaan uit 44 voorsitters van verskillende organisasies, met ‘n verteenwoordigende ledetal van 26 000 mense vanuit die Shangaan, Afrikaanse, Venda, Kleurling, Indiër en Engelse gemeenskappe. Hierdie is ‘n nie-politieke organisasie, met die hoofdoelwit om goeie en deursigtige korporatiewe bestuur op alle bestuursvlakke in die streek te verseker.
Hierdie week se liassering van die oorkonde en die kostebevel ten gunste van die Voorsitterskomitee volg amper 12 maande ná die amptelike verandering van die dorp se naam van Louis Trichardt na Makhado. Die amptelike verandering is op 6 Junie, 2003, in die staatskoerant gepubliseer. Advokaat Tommy Ntsewa, Nasionale Voorsitter van die Suid Afrikaanse Geografiese Raad vir Plekname, het tydens ‘n perskonferensie op 10 Junie verlede jaar by die Makhado Munisipaliteit gesê dat geen besware verwag word nie.
Binne die 30 dae beswaartydperk is ‘n beswaar, met dokumentasie van 205 bladsye, aan die kantoor van die Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, dr. Ben Ngubane, oorhandig. Die besware het gehandel oor die gebrek aan behoorlike konsultasie, die naam "Makhado" en die koste-implikasie. Vervolgens is die hersieningsaansoek om die besluit dat die dorp se naam Makhado is, te hersien, in Februarie vanjaar by die Staatsprokueur geliasseer.
"Ons het ook intussen ‘n brief aan die Departement van Justisie gestuur dat hulle nie moet voortgaan om die Landdroshofdistrik Soutpansberg te verander na Makhado nie en ook nie die sitering van Louis Trichardt Hof te verander na Makhado nie," het mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsitterskomitee, gesê. Die doel van die brief was om, in die lig van die hersieningsaansoek, moontlike verleentheid vir Justisie te bespaar.
Op ‘n vraag wat die prosedure vorentoe is, het mnr. Naudé geantwoord dat ‘n tentatiewe hofdatum vir September verkry is. Die onmiddellike stap is om die inligting in die oorkonde te bestudeer en na gelang daarvan die Voorsitterskomitee se beëdigde verklaring aan te suiwer of te wysig. Daarna moet die respondente hul beëdigde verklaring indien.
"By ontvangs van die beantwoordende beëdigde verklaring van die respondente sal ons eers die hele saak in heroorweging neem en seker maak dat die meriete in ons guns is om met die aansoek voort te gaan. In hierdie stadium lyk dit uiters positief," het mnr. Naudé gesê.

ADVERTISEMENT:
