

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 July 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Geheimsinnige groep saboteurs het die afgelope week grootskaalse ontwrigting veroorsaak ten opsigte van kragtoevoer na buitegebiede deur op strategiese plekke kragpale af te saag.
Gedurende die nag van 8 en 9 Julie het die groep saboteurs vier kragpale op die Maralyn (Vivopad) naby Ottoshoogte afgesaag, asook ses pale op die Bandelierkoplyn (Sinthumulepad). Terselfdertyd is daar ook ses pale by die ringtoevoer tussen die Mara- en Bandolierkoplyn afgesaag naby die Sandrivierbrug by LMB Louis Trichardt. Dit het tot gevolg gehad dat verbruikers op die Maralyn vir dertien ure sonder krag was, terwyl verbruikers op die Bandelierkoplyn teen Woensdagoggend steeds sonder krag gesit het.
Volgens mnr. Ernst Joubert van die Makhado Munisipaliteit se Elektrisiteitsafdeling, is dit duidelik dat die saboteurs presies geweet het wat hulle doen. Hy sê dat hulle, deur ook die ringtoevoer te saboteer, seker gemaak het dat die kragtoevoer nie daardeur herlei kon word nie. Die onderbreking in kragtoevoer het hoofsaaklik inwoners in Sinthumule en Kutama geaffekteer.
Mnr. Joubert het gesê die kragtoevoer op die Bandolierkoplyn sou teen laat Woensdagmiddag herstel wees. In dieselfde asem het hy inwoners versoek om na vore te kom indien hulle sou weet wie vir die sabotasie verantwoordelik was. Hy of mnr. Reuben Rambado (Munisipale Bestuurder) kan geskakel word by tel. (015) 516 0212. Intussen is die saak by die polisie aangemeld.

ADVERTISEMENT:
