

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 February 2013
Wie gaan vir die skade betaal indien die onafgewerkte straatkante van onklaar strate in Makhado (Louis Trichardt) verder deur die reën beskadig word?
Na die onlangse goeie reëns het dit gelyk of nuutgeteerde strate, soos Munnik- en Stubbsstraat, se kante al hoe meer begin uitspoel. Die raadgewende ingenieurs van die projek het gesê dat dit moontlik is dat daar skade kan wees.
Gaan die belastingbetaler maar weer moet opdok vir die regmaak van die skade? Nee, sê die raadgewende ingenieurs. Hulle meen die skade van die erosie is vir die kontrakteur of sy versekeraar se rekening.
Mnr. Pieter Meiring, ingenieur van Dombo en Du Plessis Raadgewende Ingenieurs, het gesê dat dit ook afhang van die graad van die skade en dat elke insident op meriete geëvalueer moet word. Uitkalwing van ‘n halwe meter diep kan reeds skade beteken. Waar daar geen randstene of sementsypaadjie-afronding is nie, kan water deursypel na die basislae van die straat en dit laat verswak.
Wanneer gaan die finale afrondingswerk aan Munnik-, Stubbs- en Andersonstraat dan klaar wees? Die Makhado Munisipaliteit het bevestig dat die kontrakteur na verwagting alle uitstaande werk sal voltooi hê teen die einde van Februarie. Aanvanklik is daar gesê dat die kontrakteur vroeg in Februarie weer op terrein sal wees. “Die kontrakteur sal die week wat op 22 Februarie eindig op terrein wees om die randstene klaar te maak en om enige skade wat deur die reën veroorsaak is, reg te maak,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi verlede week gesê.
Volgens die munisipaliteit is ‘n paar aspekte van die werk nog onklaar. Die randstene in Stubbs-, Munnik- en Andersonstraat moet klaargemaak word. “Die herstel van reënskade, slaggate en ander werk wat daarmee geassosieer word” is nog uitstaande, asook die merk van die strate en die oprig van die padtekens. ‘n Bitumen-emulsie sproei (fog spray) moet nog op die oppervlakte van Devenish-, Grobler- en Presidentstraat aangewend word en slaggate in daardie strate herstel word. Meiring het bevestig dat die slaggate in gedeeltes van dié strate herstel sal word, aangesien die gebeurlikheidsfonds daarvoor aangewend sal word.
Die Makhado Munisipaliteit het aangedui dat hulle die finale afrondings aan al die strate van die projek belangrik ag. “Die projek word as ‘n hoë prioriteit met die nodige dringendheid hanteer,” het Bobodi gesê. Die projek in Andersonstraat (ongeveer een blok) is al amper 15 maande oud. Stubbsstraat is in April verlede jaar omgedolwe, met Munnikstraat tussenin.
Die raadgewende ingenieurs het gesê dat laatbetalings van die munisipaliteit ‘n rol gespeel het in die stadige vordering. Die Makhado Munisipaliteit het bevestig dat kontrakteurs se betaling op datum is vir die werk wat reeds gedoen is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
