ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Oosthuizen het geweet van die geld, sê Koch

 

News  Date: 25 February 2013

 

Die verhoor van ‘n sakeman van Makhado (Louis Trichard), wat daarvan beskuldig word dat hy honderde duisende rande van sy werkgewer gesteel en uitgedobbel het, het vandeesweek begin.

Die 52-jarige Jacobus Christiaan Oosthuizen, alombekend as Jack, het Maandag in die Streekhof hier verskyn. Hy het onskuldig gepleit op die klag van diefstal teen hom. Oosthuizen se medebeskuldigde, Jacques Julian Koch (36), wat reeds op dieselfde klagte skuldig bevind is en tans gevangenisstraf uitdien, het teen Oosthuizen begin getuig.

Koch is in Augustus 2011 ses jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Hy het Maandag getuig dat hy en Oosthuizen meer as R200 000 se kontant van kliënte verduister het. Hulle was gedurende 2010 werksaam by Bridge Auto in Makhado (Louis Trichardt) se tweedehandse voertuigafdeling. Oosthuizen was ‘n bestuurder gewees en Koch ‘n verkoopsman.  Al die geld ter sprake was afkomstig van Bridge-kliënte wat motors kontant gekoop of verkoop het.

Koch is, volgens sy getuienis, eerste uitgevang en is voor stok gekry oor die geld wat weg is. Hy het ‘n skulderkenning geteken waarin hy onderneem het om die geld in paaiemente aan sy werkgewer, mnr. Rampie Gilfillan, terug te betaal. 

“Jack het geweet van die geld ... hy het geweet die geld is gesteel teen die tyd wat ek die skulderkenning geteken het. Hy het tot vir my raad gegee en gesê my pa kan my help terugbetaal,” het Koch getuig.

Kort hierna het nog kliënte na vore gekom  oor hul geld wat hulle betaal het vir voertuie wat hulle nooit ontvang het nie. “Ek het vir mnr. Gilfillan alles vertel. Ek het vir hom vertel dat ek en Oosthuizen die geld gesteel het en met die meeste gedobbel het,” het Koch gesê.

Oosthuizen sou glo die “briekwerk” doen, sou daar vrae begin vra word oor die vermiste geld. “Ons het tyd gehad om mee te speel.” Koch het ook verder getuig dat hy van die gesteelde geld aangewend het om vir homself dwelms mee te koop. Hy het ook verder vertel dat  Oosthuizen kort vóór sy hofsaak vir hom ‘n voorbereide verklaring gebring het om te teken en in te dien as ‘n bykomende verklaring.

“Ek het nie hierdie dokument geteken nie, want as mens dit mooi deurlees, sal mens sien dat Jack nêrens  geïnkrimineer word nie,” het Koch gesê. In hierdie verklaring, wat by die hof ingedien is as bewysstuk, word Koch  alleen as sondebok uitgemaak. In hierdie verklaring word ook melding gemaak van nog werknemers wat geld van Bridge sou verduister het en ander “ongerymdhede" in die maatskappy.

Nadat Oosthuizen se regspan Koch onder kruisverhoor geneem het, moes die saak egter uitgestel word aangesien ander sake ook in die hofsaal aangehoor moes word. Oosthuizen se verhoor sal weer 3 en 4 Junie hervat word.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines