ADVERTISEMENT:

 

Die Makhado Munisipaliteit se munisipale bestuurder, mnr. mnr. Sakkie Mutshinyali, het in die 2011/12 finansiële jaar ‘n totale pakket van R874 324 ontvang waarvan R487 333 die basies jaarlikse vergoeding was en R324 951 ontvang was vir reis, motor, akkommodasie, verblyf en ander toelae.

Salarisse vreet miljoene

 

News  Date: 25 February 2013

 

Jan Alleman van Makhado (Louis Trichardt) wat dalk enigiets tussen R6000 en R20 000 per maand verdien, se oë sal rek as hy hoor wat die stadsvaders in ‘n jaar huis toe neem.

Die Makhado Munisipaliteit se munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, het in die 2011/12 finansiële jaar ‘n totale pakket van R874 324 ontvang; dit is so kort duskant R73 00 per maand. Van dié jaarlikse pakket was R487 333 die basiese jaarlikse vergoeding en R324 951 is ontvang vir reis, motor, akkommodasie, verblyf en ander toelae. Die oorblywende R62 040 was vir medies, pensioenfonds en werkloosheidsversekering - almal belangrike items vir iemand in ‘n verantwoordelike posisie wie se kontrak skielik beëindig kan word. Daar kan egter genoem word dat 2011/12 ‘n groot besparing getoon het. Die vorige jaar het die munisipale bestuurder, mnr. Shadrack Tshikalange, ‘n stewige R1.1miljoen huis toe gevat.

Kort  op die hakke van die munisipale bestuurder se vergoedingspakket volg dié van die direkteur van tegniese dienste, mnr. Thivho Ralulimi, met ‘n jaarlikse vergoeding van R832 508, wat so ‘n rapsie meer as R69 000 per maand verteenwoordig. Niemand sou Jan Alleman kwalik neem nie as hy sou wens vir selfs net dié direkteur se jaarlikse reistoelae van R262 254 nie.

‘n Groot verrassing is die 2011/12 pakket van die direkteur van gemeenskapsdienste, mnr. Elias Mugari. Hy troef selfs die munisipale bestuurder deur R916 357 te ontvang. In die vorige boekjaar was sy vergoeding R762 805. Die verskil kom eintlik in by die feit dat dié direkteur ‘n prestasiebonus van R84 120 ontvang het. Daar was net een direkteur wat so ‘n bonus ontvang het.

Die direkteur van beplanning en ontwikkeling, me. Dakalo Sinthumule, se jaarlikse pakket is R791 178 of net duskant R66 000 per maand. Die direkteur van korporatiewe dienste val in dieselfde kategorie, met R789 738 per jaar.

Teenoor die direkteure lyk dit amper of die jong hoof finansiële beampte, me.  Mikateko Makhubela, agter in die ry moes staan toe salarisse vasgestel is met ‘n totale jaarlikse pakket van R671 037 (basiese salaris R337 144). Makhubela het in Oktober verlede jaar by die munisipaliteit aangesluit.

Die burgemeester, ‘n politieke aanstelling, word net R637 103 per jaar betaal. Gelukkig kan rdl. David Muthavatsindi gratis in die burgemeesterswoning bly en ‘n raadsvoertuig vir amptelike pligte gebruik. Hy en die speaker, rdl. Lindiwe Lowane,  kry elk ‘n kantoor en sekretariële bystand. Die speaker kry R516 556 per jaar.

Die vergoeding van al die raadslede, insluitend dié van die burgemeester en speaker, was R16 799 647 vir die boekjaar eindigende 20 Junie 2012.

Werknemer-verwante uitgawes het R171 883 712 bedra. Dis nou sonder die raadslede se vergoeding. Die totale uitgawes van die munisipaliteit was meer as R700 miljoen - R742 861 974 om presies te wees. Die werknemer-verwante uitgawes vorm 23% daarvan. Met die vergoeding van die raadslede, burgemeester en speaker daarby, word dit opgestoot na 25% of 'n bedrag van meer as R188 miljoen. Daaraan dra die man in die straat maar swaar en dit is nie vreemd vir inwoners om te wonder: Watter dienste kry hulle in ruil vir hierdie massiewe salaris uitgawes?

Die totale inkomste van die munisipaliteit was amper R580miljoen, met die presiese bedrag R579 849 815. Die tekort was net meer as R163miljoen.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines