ADVERTISEMENT:

 

Veiligheidsbeampte op plaas vermoor

 

News  Date: 11 June 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Nog twee voorvalle van ernstige geweldsmisdaad het die plaaslike gemeenskap vandeesweek geruk.

‘n Moord, ‘n gewapende roof en ‘n poging tot moord het binne etlike ure na mekaar op en naby die dorp plaasgevind.

Die polisie is op soek na die moordenaar van mnr. Johan Heckman, die 45-jarige veiligheidsbeampte van King Civils - die kontrakteur wat die verbreding van die N1 deur die dorp behartig.

Die liggaam van wyle mnr. Heckman is Woensdagoggend ‘n paar meter vanaf sy gehuurde blyplek op die plaas Minestone op die Witvlagpad aangetref. Hy is vermoedelik die vorige aand vermoor. Hy het ‘n wond aan sy maag gehad, wat deur ‘n skerp voorwerp veroorsaak is.

Volgens ‘n polisie woordvoerder is die motief vir die moord nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie het versoek dat enigiemand met inligting oor die voorval of ‘n moontlike motief hulle moet kontak.

Die plaaslike polisie is ook op soek na twee verdagtes wat vroeg Woensdagoggend betrokke was by ‘n gewelddadige motorkaping en gewapende roof. ‘n Man is in die voorval gewond en beroof.

Volgens ‘n polisieverslag het twee gewapende mans Woensdagoggend by ‘n woonhuis in Eltivillas opgedaag en die 21-jarige mnr. Moeen Ameer met ‘n vuurwapen aangehou, kort voordat hy vir werk wou vertrek. Die rowers het glo geld van hom geëis. Hulle het hom van R800 beroof en almal in die woonhuis beveel om plat op die vloer te lê. Nadat hulle mnr. Ameer in sy regterbobeen geskiet het, het hulle sy voertuig, wat in die motorhuis gestaan en luier het, gesteel en weggery. Mnr. Ameer is in die Louis Trichardt Gedenk Hospitaal opgeneem. Die polisie het die voertuig later die oggend verlate langs die Elim-pad aangetref.

Enigiemand met inligting oor die gewapende roof kan vir kapt. Ebenezer Seckle of insp. Tshikotsi skakel by tel (015) 519 4300.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines