

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2013
‘n Nege-en-dertigjarige inwoner van Buysdorp, wat daarvan beskuldig word dat hy sy 15-jarige stiefdogter verkrag het, het verlede week in die Louis Trichardt Landdroshof verskyn.
Dié man het verlede Vrydag ‘n borgaansoek gebring, nadat hy reeds op 3 Februarie gearresteer is en van verkragting aangekla is.
Die 15-jarige meisie het ‘n klag by die polisie gaan indien, nadat haar stiefpa haar glo langs ‘n verlate pad buite Polokwane gedwing het om seks met hom te hê. Volgens die inligting verskaf sou die voorval op 3 Februarie plaasgevind het. Die pa, wat al 10 jaar met die dogter se ma getroud is, woon en werk op Buysdorp. Die man en meisie was in Polokwane gewees vir besigheid toe die voorval na bewering plaasgevind het.
Ná die voorval het die meisie haar ouer suster gebel om haar hospitaal toe te vat en ‘n verklaring by die polisie te gaan aflê.
Die man is kort hierna gearresteer en in aanhouding geplaas. Hy het Vrydag, tydens sy borgaansoek, beweer dat sy lewe in gevaar is vir so lank as wat hy in aanhouding bly. Volgens die man, wat ‘n plaaswag op een van die plase in die Buysdorp-omgewing is, het van sy medegevangenes hom herken. Die man het aangevoer dat hy vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens se teen-renosterstroopeenheid as ‘n beriggewer werk. Dit is glo verdagtes wat hy help arresteer het gedurende sy diens wat hom herken het.
“Hulle het my gedreig,” het die man getuig. Die man het ook verder gesê dat indien hy op borg vrygelaat word, hy op sy werkgewer se plaas sal kan bly.
Die man se borgaansoek is egter verder uitgestel toe hy deur die Staat gepols is oor sy betrokkenheid by die teenstroop-eenheid. “Ek kan nie daaroor getuig nie,” het die man gesê, “ek het ‘n eed van geheimhouding onderteken.”
Die man se saak is uitgestel tot 22 Februarie, sodat die man se bewering verder ondersoek kan word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
