

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2013
Nog twee weke. Dit is hoe lank inwoners van Makhado (Louis Trichardt) sal moet wag voor daar weer water in die dorp sal wees.
Die Makhado Munisipaliteit het saam met ‘n groep afgevaardiges van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) en verteenwoordigers van onderskeidelik die Departement van Waterwese, plaaslike burgerregtegroep AfriForum en die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) ‘n inligtingsessie gehad oor die nuwe boorgate op die dorp.
Die vergadering het verlede Donderdag plaasgevind, alhoewel die partye betrokke verskil daaroor of dit ‘n inligtingsessie of ‘n onthullingsplegtigheid vir die nuwe toegeruste boorgate was. Terwyl AfriForum en die SBBV uitgenooi is na ‘n onthullingseremonie van die nuwe pompe, is die media genooi na ‘n inligtingsessie.
“Eenvoudig gestel: hierdie nuwe boorgatprojek is ‘n fiasko – ‘n monument vir munisipale onbevoegdheid,” het plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz gesê na afloop van Donderdag se gebeure. Nie een van die vier pompe wat besoek is, het gewerk nie. Uit twee van die pompe het ‘n stroom vuil, bruin water gekom. Een pomp wou glad nie aanskakel nie.
In terme van AfriForum se hofbevel wat hulle in Oktober verlede jaar teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) verkry het, moes hierdie boorgate reeds in November toegerus gewees het met pompe. Die hofbevel maak melding van ses boorgate, maar tot op hede is net vier boorgate toegerus. Die hofbevel het ook beveel dat die pompe op 30 November aan die waternetwerk gekoppel moes wees en begin om die dorp met water te voorsien.
Die vier boorgate wat wel toegerus is, is geleë in Kort-, Grobler-, President- en De la Reystraat.
Donderdag het dit aan die lig gekom dat daar nog “tegniese probleme” is met van die pompe. Mnr. Tshifhiwa Masakona, VDM se waarnemende senior bestuurder vir waterdienste, het verduidelik dat dit ‘n geleentheid was vir al die rolspelers om hul griewe te lug oor die nuwe pompe. “As julle ongelukkig is met iets op die pompe, skryf dit neer, bring dit onder my aandag en ons sal die probleme aanspreek,” het hy gesê.
Probleme wat toe wel Donderdag opgemerk is by die nuwe pompe, was onder andere lekkasies op die pypstelsels en elektriese foute. Daar is aan die Zoutpansberger verduidelik dat al hierdie probleme in twee weke se tyd reggestel sal word. Hierna sal daar water aan die dorp voorsien word.
Omdat die pompe boorgatwater direk aan die Mowkop reservoir sal verskaf, is Masakona gevra of rioollekke naby die boorgate nie die ondergrondse water besoedel nie. “Ons het die boorgate getoets toe ons hulle geboor het. Na hierdie operasies sal ons ouens kom en weer toets ... hulle sal dit van tyd tot tyd weer toets,” het hy gesê.
Die nuwe pompe is egter net ‘n tydelike oplossing vir die waterkrisis waarin die dorp hom al vir die afgelope paar jaar bevind. Volgens Masakona sal die nuwe boorgate, as hulle begin werk, die VDM kans gee om die Albasinidam se vervalle pypnetwerk te herstel. Geen melding is gemaak van die nuwe reservoir wat in aanbou is of die langverwagte Nandonidam-pypleiding nie.
Op ‘n vraag oor ‘n tydsraamwerk vir die herstelwerk aan die Albasini-pypleiding het Masakona gesê dat hy nie daarop kan kommentaar lewer nie. 'n Kort videogreep van Donderdag se gebeure is beskikbaar op www.zoutnet.co.za.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
