

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 July 2002
LOUIS TRICHARDT – Privaatdokters in die dorp wat nie bereid is om snags eerste roep by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal te neem nie, is vandeesweek geblameer vir die krisis by dié hospitaal.
'n Woordvoerder vir die Departement van Gesondheid en Welsyn in Polokwane, mnr. Aluwani Netsianda, het onomwonde verklaar dat daar geen krisis ten opsigte van die aantal dokters sal wees indien die agt blanke private dokters snags eerste roep sou neem nie. Hy het gesê dat die drie swart private dokters wel eerste roep neem.
In reaksie op hierdie uitlating, het 'n woordvoerder vir die privaat geneeshere gesê dat dit vir hulle fisies onmoontlik is om eerste roep te neem en ook bedags na hul eie praktyke om te sien. Eerste roep impliseer dat die geneesheer vanaf vyf uur die middag alles hanteer wat by die hospitaal gebeur en twintig tot dertig pasiënte deur die nag sien.
"In die verlede toe die Louis Trichardt Hospitaal die gemeenskapshospitaal van die dorp was, het ons as privaatdoktors daar gewerk en is so twee tot drie maal per nag uitgeroep. Vandat die hospitaal 'n streekshospitaal geword het, bedien die hospitaal 'n wye area en is die belading gevalle baie hoog. Dit gebeur veral omdat daar so ongelooflik baie kraamgevalle is. Selfs op tweede en derde roep word ons verskeie kere per nag uitgeroep. Die dokters op eerste roep is dikwels onervare. Sodra daar narkose gegee of 'n keisersnit gedoen moet word, moet die dokters op tweede en derde roep uitkom," verduidelik dr. Jan Vermaak.
Op die dokters se roeplys vir Junie was 'n dokter op tweede roep byvoorbeeld twee volle naweke op diens plus vier nagte of een volle naweek plus ses nagte. Daarvoor ontvang die dokter 'n vergoeding van R1 000 per maand.
Volgens dr. Vermaak het die groep dokters dit van die begin af baie duidelik aan die Departement van Gesondheid gestel dat hulle nie vir eerste roep beskikbaar sal wees nie. Hy sê dat die drie dokters wat later in die dorp in beweeg het, self aangebied het om eerste roep te doen.
"Die groot probleem by die staatshospitaal is dat daar nie genoeg staatsdokters is nie," sê dr. Vermaak.
Intussen het dr. Kubike Numbi, wat die Hoof Mediese Superintendent by die hospitaal was, bevestig dat hy die hospitaal gaan verlaat. Hy was vanaf 1998 verbonde aan die hospitaal.
"Ek vertrek na Gauteng ter wille van beter geleenthede," het hy telefonies gesê. Met sy vertrek is daar nou twee permanente voltydse dokters by die hospitaal.
Mnr. Netsianda het 'n vergelyking getref tussen die hospitale van Louis Trichardt en Messina. Hy het gesê dat daar gekla word oor Louis Trichardt se hospitaal wat veertig beddens het, met twee voltydse dokters en elf sessionele dokters, terwyl "daar geen krisis is by die Messina Hospitaal wat tagtig beddens, twee voltydse dokters en ses sessionele dokters het nie". In Mei vanjaar is daar egter berig oor die ineenstorting van die gesondheidsdienste by die hospitaal in Messina. Die Raad van Kerke in Limpopo het op daardie stadium ernstige kommer uitgespreek oor die toestand in die hospitaal. Hulle het verklaar dat die reëling met die privaat dokters wat hulle eie praktyke het, nie werkbaar is nie.
Mnr. Netsianda het genoem dat hy 'n vermoede het dat die privaatdokters dalk chaos by die Louis Trichardt Hospitaal wil veroorsaak, omdat hulle besig is "met hul eie privaat hospitaal wat nog nie eers geregistreer is nie."
Dr. Vermaak het daarop geantwoord dat die dokters verskeie beroepe gedoen het op die Departement van Gesondheid om besprekings te hou rakende die aangeleentheid van 'n privaathospitaal, maar hulle het geen reaksie ontvang nie. Intussen is die hofsaak rondom die privaatkliniek op Louis Trichardt al byna 'n jaar aan die gang. Daar heers versigtige optimisme dat die saak dalk geskik kan word. Volgens dr. Vermaak is 'n lisensie om 'n privaathospitaal te bedryf uiteindelik in Tzaneen toegestaan na 'n drie-jaar-lange hofsaak. Hy sê dat daar geen gronde is waarop so 'n lisensie vir Louis Trichardt geweier kan word nie.

ADVERTISEMENT:
