

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 July 2002
WATERPOORT – Mnr. Fanie Steyn (35) kan homself baie gelukkig ag om nog te leef, nadat hy die afgelope naweek deur 'n erg-beseerde uitgegroeide luiperdmannetjie oorval is.
Fanie se pa, mnr. Piet Steyn van die plaas Fontaine Bleau, vertel dat een van sy arbeiders hom op Saterdag, 29 Junie kom verwittig het van 'n eienaardige sleepsel in die openbare pad aangrensend tot sy plaas. Heelwat luiperdspore het die sleepsel vergesel en volgens die arbeider was die sleepsel definitief nié die van 'n wildsbok nie. Fanie en sy pa het daarna gaan ondersoek instel.
Mnr. Steyn (snr.) sê dat hulle die sleepsel vir ongeveer vyftig meter gevolg het, al saam met 'n diep sloot met ruie plantegroei op die walle. Die luiperd het skielik van twee meter ver weg uit die ruie plantegroei gestorm en vir Fanie gegryp. Alhoewel beide mans gewapen was, was daar egter geen skietkans nie aangesien mnr. Steyn bang was hy tref sy seun. Die luiperd het sekondes later sy greep laat vaar en onder digte bosse ingevlug, waar hy kort daarna van kant gemaak is.
Fanie, wat ernstige bytwonde aan sy linkerarm opgedoen het, is inderhaas na die hospitaal op Messina gejaag waar die wonde skoongemaak is. Hy is toe oorgeplaas na die private hospitaal in Pietersburg. Buiten vir die erge bytwonde, het hy ook 'n beenfraktuur opgedoen en is daar aanvanklik gevrees dat hy dalk sy duim kon verloor.
Die rede vir die eienaardige sleepsel en waarom die luiperd die twee mans aangeval het, het later duidelik geblyk. By nadere ondersoek van die dooie luiperd het mnr. Steyn (snr.) opgemerk dat die luiperd se regter heup 'n ernstige besering opgedoen het. Die vermoede bestaan dat 'n voertuig die luiperd raakgery het, waarna die beseerde dier homself sonder die gebruik van sy agterlyf moes sleep tot in die beskutting van die digte bosse. Die besering was waarskynlik die rede vir die dier se aggresiewe gedrag en waarom hy die mans aangeval het.
Mnr. Steyn (snr.) sê dat die woord "skrik" nie van toepassing was nie. Al wat deur sy kop gegaan het, was om die luiperd van sy seun af te kry. Gelukkig genoeg, sê hy, kon die luiperd nie sy agtervoete gebruik om vas te skop nie, anders kon die uiteinde van die voorval heelwat meer tragies gewees het.
Mnr. Johan Holtzhausen, 'n plaaslike kundige op die gebied van luiperdgedrag, het Woensdag beaam dat Fanie inderdaad gelukkig kan wees dat die luiperd nie sy agterpote kon gebruik nie. Hy sê dat dit normale gedrag is by luiperds om hul prooi se ingewande met hul agterpote uit te ruk.
Mnr. Holtzhausen sê dat dit belangrik is om te onthou dat luiperdaanvalle nie 'n alledaagse gebeurtenis is nie.
Hy sê dat hy nou bewus is van slegs drie gevalle die afgelope vyftien jaar waar persone deur 'n luiperd agters die Soutpansberg aangeval is. Nie in een geval is die slagoffers deur die luiperd gedood nie en in al die gevalle was die aanvalle toe te skryf aan buitengewone omstandighede. Luiperds, sê hy, val gewoonlik aan wanneer hul vasgekeer word of, soos in Fanie se geval, waar hulle beseer is. Buiten hiervoor, sê mnr. Holtzhausen, is dit letterlik 'n geval dat meer mense deur luiperds gesien word as wat luiperds deur mense gesien word. In dieselfde asem het hy gesê dat luiperds 'n belangrike skakel is in die handhawing van die balans in die natuur.
Teen druktyd was Fanie nog in die hospitaal, aangesien dokters hom dophou vir moontlike infeksie.

ADVERTISEMENT:
