

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 March 2013
Mev. Susan Fernandes en haar man, altwee pensionarisse van Makhado (Louis Trichardt), het verlede jaar besluit om ‘n motorhuis en stoorkamer langs hulle woning aan te bou. Hulle het toe bietjie begin rondvra na bouers.
Dit was in hierdie stadium dat ‘n plaaslike man die Fernandes-egpaar genader het met ‘n kwotasie vir die bouwerk (Die bouer kan nie geïdentifiseer word nie omrede die egpaar ‘n siviele eis teen hom aanhangig gemaak het en die man teen druktyd nog nie amptelik gedagvaar is nie).
Die egpaar se nagmerrie ervaring het begin nadat hulle op 8 Augustus die eerste paaiement van R48 900 aan die bouer oorbetaal het. Van die bouwerk het daar egter bitter min gekom. Teen die einde van Augustus was die enigste vordering aan die nuwe gebou ‘n saamgeflansde fondament. Uit foto’s wat Susan geneem het, kan duidelik gesien word dat die stene wat gebruik is van ‘n lae kwaliteit was.
Die bouer se bouspan het ook nie volgens Susan elke dag vir werk opgedaag nie. “Ek het eendag sommer self ingespring en gehelp,” het Susan vertel.
Nadat die fondament gegooi is, het hulle ook uitgevind dat die bouer nie volgens die bouplan gewerk het nie, en dat hul nuwe motorhuis nou heelwat kleiner geword het.
Dit sou eers later aan die lig kom dat die bouer nie by die Nasionale Huisbouersraad, oftewel die National Home Builder’s Registration Council (NHBRC), geregistreer is nie. “Elke keer as ons hom gevra het vir sy sertifikaat, het hy lang stories gehad,” het Susan gesê.
Op 5 Oktober het die bouwerk nog nie verder as die fondament gevorder nie en die bouer het ‘n verdere R10 000 gesoek om nog boumateriaal aan te koop. Die dag wat hy die geld ontvang het, was egter die laaste dag wat die Fernandes-egpaar hom gesien het. Hierna was die man altyd te besig en kon hy net telefonies bereik word.
Die man het ook glo vir Susan gesê die rede hoekom hy nie verder kan bou nie is omdat hy wag vir die munisipale bou-inspekteur om af te teken op die fondament. Daar kon egter geen spoor van hierdie inspekteur gekry word by die Makhado Munisipaliteit nie.
Intussen het die Fernandes-egpaar aan die begin van Februarie vanjaar ‘n nuwe bouer aangestel. Hierdie keer het hulle seker gemaak hy is wel geregistreer. “Ons het ‘n duur les geleer en wil nou op hierdie wyse ander mense waarsku om nie in dieselfde slaggat as ons te trap nie,” het Susan gesê.
Die bouwerk het teen verlede week, met Susan se besoek aan die koerant, reeds fluks gevorder. Dit was ten spyte van die feit dat die ou fondasie eers gelyk gekap moes word, sodat die nuwe en groter fondasie gegooi kon word. Susan het gesê hulle is nie net tevrede met die nuwe bouwerk van die nuwe bouer nie, maar ook op die wyse wat hy die finansies hanteer.
“Ons hoop maar dat ons ons geld sal terugkry en met die regsaksie sal keer dat hierdie ou [die aanvanklike bouer] nie ander mense indoen nie,” het Susan gesê. Sy het aanbeveel dat inwoners eers moet seker maak dat die bouer wat hulle aanstel, geregistreer is.
“Doen vooraf deeglike navorsing oor sy werk en moenie net enige iemand aanstel nie,” was haar raad.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
