ADVERTISEMENT:

 

'n Dik stroom rou riool vloei sedert verlede week weer voor Hoërskool Louis Trichardt verby met honderde leerling wat se gesondhed wat daagliks daardeur bedreig word.

Kinders ploeter steeds deur rouriool voor skool

 

News  Date: 01 March 2013

 

“Daar is ‘n reuk van bakterieë wat daaroor hang. Dis verbasend dat ons nie meer gereeld met siek kinders sit nie.”

So sê mnr. Henry Denner, hoof van Hoërskool Louis Trichardt, nadat riool sedert verlede week weer in ‘n sterk stroom langs die skool in Andersonstraat afvloei. Daar is vier riool-mangate in dié straat aangrensend tot die hoërskool. Vanjaar alleen het die Makhado Munisipaliteit al drie maal verstoppings kom oopsteek, maar na ‘n paar dae borrel die riool maar weer uit. Op 17 Januarie het ‘n span die verstopping kom oopsteek, nadat Denner dit onder die aandag van besoekende munisipale beamptes gebring het. Die riool het egter net uit ‘n volgende mangat begin borrel en dié probleem is eers na 10 dae herstel. Algou het die riool weer begin loop en ‘n span het op 14 Februarie uitgekom. “Laasweek het die riool nie geloop nie, maar van dié naweek af loop dit weer soos ‘n rivier,” het Denner gesê en bygevoeg dat gevalle van kinders wat siek geword het as gevolg van die rioolbesmetting nog nie onder sy aandag gebring is nie. “Ek moet sê die laaste tyd maak die munisipaliteit darem ‘n paar mangate op die lyn af oop en dan hou dit ten minste ‘n rukkie,” het Denner gesê.

Adjunkhoof mnr. Theo Muller het gesê dat daar ‘n vermoede is dat die massa riool van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal se kant af kom. “In die verlede het ons al babadoeke en hospitaallinne daarin gekry. Daar is in ‘n stadium aan ons gesê dat die hospitaal op ‘n ander lyn is ... ‘n Bouer met loodgietersondervinding het onlangs vir ons die mangate kom oopmaak en hy het gesê dat daar baie boomwortels in is. Dit is tyd dat die pyplyn behoorlik skoongemaak word,” het Muller gesê.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, is gevra om die wortel van die aanhoudende probleem aan te dui, asook hul plan van aksie.  “Die rioolprobleem is veroorsaak deur sand wat die mangat en die sisteem infiltreer het na die swaar reëns. As daar ‘n ‘uitdaging’ by daardie mangate is, sal ons die tru-grawer gebruik om die ‘uitdaging’ eens en vir altyd aan te spreek,” het Bobodi Dinsdag per e-pos geantwoord.

Die verskoning dat die onlangse swaar reën die probleem veroorsaak het, is egter twyfelagtig. Reeds in 2007 het die Zoutpansberger berig dat Denner gesê het dat hulle al sowat twee jaar met die rioolprobleem sukkel. In 2011 is daar ook berig dat  rou riool vir meer as ‘n maand in Andersonstraat afgestroom het, voordat die probleem aangespreek is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines