

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2013
Alhoewel Saterdagmiddag se Super 15-kragmeting tussen die Cheetahs en die Haaie die nodige kykgenot verskaf het, was dit egter ‘n slang wat vir die grootste opwinding in die Kloppers-woning gesorg het.
Willie Kloppers, van die plaas Bristol op die Vivopad, vertel dat hy Saterdag besluit het om maar vir sy tweedespan, die Cheetahs, te skreeu in hul kragmeting teen hul Natalse opponente.
Halfpad deur die wedstryd bars daar toe skielik chaos in die huis uit. ‘n Slang, wat skuiling gevind het op ‘n gordynreëling in die eetkamer, het skielik geval en op die eetkamertafel beland. In hierdie stadium moet genoem word dat dit nie sommer net so ‘n ou slangetjie was nie, maar wel ‘n bielie van 'n swart mamba.
“My vrou was nog nooit so vinnig nie,” sê Willie.
Die slang het probeer wegkom maar kon nie, want hy het die hele tyd op die glade vloerteëls gegly. Dit het vir Willie kans gegee om sy vuurwapen te gaan haal. Die slang moes geskiet word, want Willie weet alte goed hoe dodelik ‘n swart mamba is. “So ‘n tyd gelede het ek een van so twee meter in my beeskraal geskiet, nadat dit een van my beeste gepik het. Tien minute later was die bees dood,” sê Willie.
Dit was egter nie so maklik om die slang te skiet nie. Mambas is vinnige slange en met al die geglyery op die teëlvloer moes Willie fyn korrel om die doodskoot te gee.
“Toe ek die een in die beeskraal geskiet het, het ek gedink dit is ‘n grote. Hierdie een het egter 3,5m gemeet,” sê Willie.
Ook maar goed die slang het op die teëls gegly. Nie net kon hy nie vir Willie raak pik nie, maar ook nie die familie se klein Yorkie, Bokkie, nie. “Bokkie het die hele tyd die slang bestorm. Ons het ná die tyd besluit om Bokkie se naam te verander na Tiger,” skerts Willie.
(N.S. – Willie was nie te teleurgesteld oor die Cheetahs se 22-29 nederlaag teen die Haaie nie, want sy eerstespan, die Blou Bulle, natuurlik, het reeds die vorige aand 25-17 afgereken met die Stormers).
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
