ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Moet iemand eers toegesluit word?

 

News  Date: 04 March 2013

 

Sal die boodskap “munisipaliteite móét water voorsien” eers by beamptes inslag vind as iemand agter tralies sit?

“Ons wil nie graag iemand agter tralies sien nie, maar sou dit gebeur, sal dit ‘n boodskap uitstuur vir baie munisipaliteite,” het AfriForum se Limpopo-organiseerder, mnr. Tiaan  Esterhuizen, op Dinsdag, 26 Februarie, gesê. Hy het verwys na die regsaak wat AfriForum Louis Trichardt teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit  (VDM) aan die gang het. AfriForum het in Oktober ‘n hofuitspraak teen die VDM verkry waarin onder andere beveel word dat daar teen Desember verlede jaar elke dag konstante watervoorsiening aan die dorp moet wees tussen 04:00 en  10:00 en tussen 16:00 en 20:00. AfriForum het die VDM verskeie kere uitstel gegee en die finale datum was 17 Februarie.

Die stappe om met ‘n proses van minagting van die hof te begin, is nou aan die gang. Esterhuizen het verduidelik dat die eerste uitspraak op ‘n instansie (munisipaliteit) gemaak is, maar dat die saak van minagting van die hof teen ‘n persoon of persone sal wees. “Dié persone is die munisipale bestuurder en moontlik ook die burgemeester van die distriksmunisipaliteit. Ons sal die persoon of persone weer ‘n billike tyd gee om die watersituasie aan te spreek en daarna sal die reg sy gang gaan. ‘n Vonnis van 30 dae kan dalk die uiteinde wees van die regsproses van minagting van die hof,” het Esterhuizen gesê.

AfriForum hoop om teen middel Maart in die hof te wees met hul minagting-aansoek. Dit volg nadat die plaaslike AfriForum voorsitter, mnr. Wally Schultz, en forumlid mnr. Lampie Schoeman ‘n twee-uurlange konsultasie met AfriForum se regspan in Pretoria gehad het. Adv. Jan Saunders, wat die eerste hofuitspraak verkry het, prokureur Werner Human en Esterhuizen was teenwoordig.

“Daar is ongelukkig nou nie meer ruimte vir kompromie, praat en hulp verleen nie. Ek moet nou terugstaan sodat die reg sy gang kan gaan,” het Schultz gesê. Schultz het deurentyd agteroor gebuig om die VDM tegemoet te kom. Esterhuizen sê dat dit wat wel bereik is ten opsigte van die hofbevel, deur Schultz geïnisieer is.

Ten opsigte van die hofprosesse het die VDM gesê dat hulle die regsisteem respekteer en steeds daaraan toegewyd bly om water te voorsien. Hulle het egter gesê dat dit nie realisties was om volledige watervoorsiening binne die bestek, soos aangedui in die hofbevel, te verskaf nie. “Toe ons in Pretoria was vóór die hofbevel, het ons gesê ‘ses maande’, maar die prokureurs het gesê hulle kliënte sal nie so ‘n lang tydperk sonder water toelaat nie en ons moes afkom na twee maande, terwyl ons geweet het dat dit nie kan werk nie,” het die VDM se waarnemende senior bestuurder vir waterdienste, mnr. Eric Masakona,  verlede week gesê.

Hy het bygevoeg dat die VDM nie net skielik ‘n begroting het omdat daar ‘n hofbevel is nie. Volgens Masakona het die VDM die waterfunksie sedert 2003 oorgeneem, maar “nooit ‘n sent van die Makhado Munisipaliteit” ontvang nie. Dit is waarom hulle besluit het dat die waterdienste se geld direk aan die VDM betaal moet word. “Ons probeer befondsing kry vir ons deel van die Nandoni-pypleiding van Valdezia na Mowkop, want die R35 miljoen wat toegeken is, sal seker nie eers 50 pype kan aankoop nie. Die watersake departement het gesê hulle sal ons bystaan om  fondse te probeer kry,” het Masakona gesê. Voordat die Nandoni-pypleiding nie voltooi is nie, “sal die reservoir nooit vol wees nie en nie almal sal water kry op die manier wat ons dink nie,” het Masakona gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines