ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Kliënte, nie onderdane nie, waarsku AfriForum

 

News  Date: 08 March 2013

 

Hofsake teen munisipaliteite is iets waarvan al hoe meer gehoor word. In die mees onlangse geval het AfriForum hul Verbruikerswet-saak oor munisipaliteite wat diensverskaffers is, gewen.

Uitspraak is in AfriForum se guns gelewer om die vrystelling van sekere munisipaliteite van bepalings van die Verbruikerbeskermingswet op te hef. Lae- en medium-kapasiteit munisipaliteite is vanaf 28 Maart nie meer vrygestel van dié wet se bepalings nie. Belastingbetalers van nie-presterende munisipaliteite het nou meer skietgoed in hul stryd om dienslewering. “Dit is nie net ‘n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal in die land wat keelvol is vir swak munisipale dienslewering,” het mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in ‘n persverklaring gesê. Kriel het bygevoeg dat inwoners kliënte van munisipaliteite is en nie hulle onderdane nie. Munisipaliteite moet inwoners se verbruikersregte respekteer.

Die voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie, mnr. Jaap Kelder, het gesê dat dit goeie nuus is dat alle munisipaliteite nou onderhewig is aan die Verbruikerswet.  Kelder waarsku egter dat die “hoë-kapasiteit" munisipaliteite of metrorade al vir twee jaar aan dié wet onderhewig was, maar dat dit nie ‘n verskil aan hulle dienslewering gemaak het nie. “Die uitspraak kan egter meer juridiese gronde daarstel om weerhouding te regverdig of om krediete vir nie-gelewerde dienste te eis,” het Kelder op 2 Maart gesê.

Intussen is die Hooggeregshof saak tussen die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) en die Makhado Munisipaliteit oor kragafsnyding, wat op 18 Februarie aangehoor sou word, uitgestel. Die SBBV het op 3 Februarie laasjaar ‘n dringende tussentydse hofaansoek gebring dat die munisipaliteit van hulle lede se krag, wat afgesny is, moes aanskakel. Die munisipaliteit het gekom met ‘n voorlopige skikkingsvoorstel wat aanvaar is en het lede se krag aangeskakel. Intussen het die munisipaliteit hul teenkanting geliasseer. Die regter sou op 18 Februarie moes besluit of die voorwaardes van die skikkingsvoorstel permanent gemaak moes word. Dit sou daarop neerkom dat die munisipaliteit nie die SBBV-lede se krag mag afsny terwyl hulle in dispuut met die munisipaliteit verkeer oor dienste wat nie behoorlik gelewer word nie.

Die voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, het verlede week verduidelik dat hul advokaat besluit het om die saak te laat uitstel, in afwagting van die Konstitusionele Hof se uitspraak in die me. Olga Rademan-saak. Die saak van Rademan van Kroonstad teen die Moqhaka Munisipaliteit is op 5 Februarie in die Konstitusionele Hof aangehoor. Net soos die SBBV, hou die Moqhaka Belastingbetalers en inwonersverenigings ook hul heffings en eiendomsbelasting terug weens swak munisipale dienslewering. Hul munisipaliteit het egter Rademan se geld wat sy vir elektrisiteitsverbruik betaal het, teen haar uitstaande heffings en belasting afgeskryf en haar krag afgesny. Uitspraak is voorbehou. “Dit kan ongeveer ses weke duur voordat die uitspraak gegee word,” het Gilfillan gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines