

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 July 2002
LOUIS TRICHARDT - Vanjaar se Louis Trichardt Skou gaan op 25 Julie afskop met 'n program vol van opwindende verskeidenheid. Die skou duur tot 27 Julie.
Televisie persoonlikhede, kulkunstenaars, verstommende kragtoertjies en hoë pret uit Skotland, sowel as 'n aanskoulike vertoning vanaf Gold Reef City sal met 'n hele toernooi Bulletjie rugby, vliegvertonings en skoonheidswedstryde meeding om die aandag van skougangers.
Al die pret en skouspel word vanjaar aangebied op 'n skouterrein wat oor die algemeen heelwat meer aandag gee aan die persoonlike gerief en gemoedsrus van skougangers.
Die pret begin reeds op die eerste dag en gaan deurentyd van dag tot dag na nuwe hoogtepunte gevoer word.
Donderdagmiddag, 25 Julie, die eerste dag van die skou, begin 'n vertoning met modelvliegtuie in die arena. Die vertoning gaan elke dag aangebied word.
Len Ashton, die veelsydige balanseerkunstenaar wat bykans enigiets op sy ken kan balanseer, begin ook sy vertonings op Donderdag. Tussen die toertjies deur sal hy ook sing en kinders se gesigte teen 'n fooi grimeer. Waaghals Johan Behr se eerste toertjies begin ook Donderdagaand.
Donderdagaand sal Touch of Class en Kurt Darren 'n voorsmakie gee van hul treffermusiek. Touch of Class sal ook op die laaste aand (Saterdag) tydens die skoudans optree.
Op Vrydag, 26 Julie, sal die trompoppies sorg vir 'n vroeë hoogtepunt, terwyl sterkman Gerrit Badenhorst sy verskyning maak met sy kragtoertjies. Gerrit sal ook hand bysit met die Hi-Land Games op Saterdag.
Vrydag se program eindig met 'n glansvolle hoogtepunt met die aanwys van die gewilde Mnr. en Mej. Louis Trichardt. Back to Basics is die gaskunstenaars tydens hierdie jaarlikse skitterbyeenkoms.
Saterdag duur die skouspel en pret voort met 'n bulletjie rugbytoernooi, die mini/junior skoonheidskompetisie, die prysuitdeling van die vee, die Hi-Land Games, lugmagvertoning, Sewende Laan kunstenaars, Magic Mania en die finale vuurwerkvertoning en skoudans.
Verskeie akteurs van die Sewende Laan reeks, in samewerking met Vangie Coker, tree Saterdagaand vanaf 18:30 op. Gehoordeelname en sangitems maak deel uit van die vertoning.
Magic Mania is 'n aanskoulike vertoning vanuit Gold Reef City en sluit kulkunstenaars, illusievertonings en 'n sirkusvertoning in met kenmerkende kleurvolle kostuums.
Vir die Hi-land Games op Saterdag kan plaaslike sterkmanne inskryf. Dit sluit in paalgooi, hamergooi, houtkap en saag en Skotse klippe laai. Hierdie tradisionele Skotse kompetisie vereis dat deelnemers Skotse rokkies moet dra. Spanne bestaan uit twee lede en elke span moet geborg word deur iemand en die borg se T-hemp dra. 'n Eerste prys van R1 000 is op die spel.

ADVERTISEMENT:
