ADVERTISEMENT:

 

“Ons wasgoed stapel op, ons kan nie bad of toilette spoel nie ... Ek kan nie vir iemand verduidelik hoe frustrerend dit is nie. Dit voel soos grootskaalse terrorisering,” het mev. Ria Oosthuizen Dinsdag gesê, nadat hulle vanaf 27 Februarie geen water in hul krane gehad het nie.

Talle gesinne sukkel steeds met haglike watersituasie

 

News  Date: 11 March 2013

 

Een van die talle gesinne in Makhado (Louis Trichardt) wat sukkel om sin te maak van die dorp se haglike watersituasie, is die Oosthuizen-gesin van Joubertstraat.

Dié gesin sit reeds sedert 27 Februarie sonder water. Mnr. Gerhard Oosthuizen, beter bekend as Wors, is nou behoorlik keelvol en sy ma, mev. Ria Oosthuizen, voel asof daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie.

“Hier is nie ‘n druppel water vanaf Woensdag laas week nie. Ons wasgoed stapel op, ons kan nie bad of toilette spoel nie en ons moet by die bure water vra - dit is totaal onaanvaarbaar! Daar kom net niks, niks water uit die kraan nie. Ek kan nie vir iemand verduidelik hoe frustrerend dit is nie. Dit voel soos grootskaalse terrorisering,” het Ria Dinsdag gesê.

“Hulle moes die ouens [van die wateroutoriteit] al lankal toegesluit het, want hulle loop bo-oor ons en organisasies soos AfriForum wat probeer help. Almal soek nou optrede!” sê Wors. 

Die Oosthuizens se huurder het uitgetrek en is terug Rand toe. “Sy het gesê die water [of gebrek daaraan] maak haar mal en sy is nie gewoond om so te lewe nie,” sê Ria. Sy sê verder dat hulle drie grootmense is en dat haar wasgoed al hoe meer ophoop. “Ek weet nie wat maak mense met klein kindertjies nie,” sê Ria.

Intussen het meer as een inwoner, wie se kinders aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus studeer, berig dat hulle kinders huistoe gestuur is omdat daar nie water in Potchefstroom is nie. Die ironie is nou dat die studente na hul tuisdorp teruggekeer het, waar daar ook nie water is nie.

“Dit lyk of die mense nie die erns van die saak besef nie. Dis regtig nie dat ‘n mens elke dag kla nie, maar genoeg is genoeg!” sê Ria.

Die plaaslike AfriForum-tak is dit ook eens dat die wateroutoriteit nie die erns van die saak besef nie. Die voorsitter, mnr. Wally Schultz, wat ook al by geleentheid vir die Oosthuizens water gebring het, het hierdie week weer beklemtoon dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) se amptenare nie die watersituasie ernstig genoeg opneem nie. Die regsproses van minagting van die hof het reeds ‘n aanvang geneem, nadat die hofbevel ten opsigte van watervoorsiening nie stiptelik en voldoende uitgevoer is nie. Die proses is aan die gang om amptenare in hulle persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou.

Die VDM het op 2 Maart laat weet dat die Albasinidam se pypleiding na Makhado (Louis Trichardt) ernstige waterlekke het en dat hulle tegniese dienste die lyn gesluit het, totdat herstelwerk voltooi is. “Die watervoorsiening sal hervat word sodra die lekke toegemaak is, “ het die VDM gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines