

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 March 2013
Bekende predikant van Levubu en voorsitter van die NG Kerk Ring van Louis Trichardt ds. Petrus Kriel is tans in die Unitas Hospitaal in Pretoria met 'n verlamde onderlyf.
Ds. Kriel is sedert Dinsdag, 5 Maart, in Unitas nadat hy die vorige dag daarheen oorgeplaas is vanaf die Pietersburg MediKliniek in Polokwane. Toetse is in Pretoria gedoen om vas te stel wat die verlamming in sy onderlyf veroorsaak het. Daar word vermoed dat dit ‘n rugmurgvirus tussen die tweede en derde werwel van onderaf is. Aanvanklik het die neuroloog gesê dat hy nie definitief kan sê of die verlamming deur ‘n beroerte of ‘n virus veroorsaak is nie, maar in hierdie stadium word ‘n virus vermoed. Ds. Kriel is in ‘n algemene saal en word so gou moontlik na die hospitaal se rehabilitasie-eenheid oorgeplaas. Dit kan gebeur wanneer sy huidige nier- en blaasinfeksies opgeklaar het.
“Ek het eergister met my kleinboet [ds. Kriel] gepraat en hy het gesê dat hy reeds sowat 60% gevoel in die regterbeen teruggekry het. Daar is ook effense prikkels in die linkerbeen,” het mnr. Willie Kriel, bekende sakepersoon van Makhado (Louis Trichardt), op 12 Maart gesê. Die familie bedank die gemeente en gemeenskap vir almal se ondersteuning, omgee en gebede.
Intussen is ds. Kriel se skoonsus, me. Marie Kriel, die dag voor hy na Unitas oorgeplaas is, in die Pretoria-Oos Hospitaal geopereer. Na ernstige komplikasies het Marie ‘n verdere noodoperasie op 7 Maart ondergaan, waarna sy oorgeplaas is na die intensiewe sorgeenheid waar sy steeds versorg word. Willie is elke oomblik van die toegelate besoektye aan haar sy. “Ons is dankbaar dat geen vergroeisels kwaadaardig was nie,” sê Marie se dogter, Karen Slippers. Karen en haar sussie, Sonja Kriel, en broers Wicus en Will, bedank hulle pa, Willie, wat “heeltyd daar is” vir hul moeder. “My ma toon vordering en ons bedank die gemeenskap vir hulle ondersteuning en belangstelling. Hou asseblief aan bid!” sê Karen.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
