ADVERTISEMENT:

 

Omstanders staan agter die polisie se afsperlyn by Prestige Jewelers. In die voorgrond kan duidelik gesien word watter skade die inbrekers aan die sentrum, waaruit Prestige sake doen, se dak aangerig het. Daar word vermoed dat hulle eerste hier probeer het om by die winkel in te breek.

Nog drie slagoffers van inbrake in middedorp

 

News  Date: 15 March 2013

 

Die mees onlangse vlaag inbrake by ondernemings in Makhado (Louis Trichardt) laat talle met ‘n gevoel van dejá vu.

Nog drie plaaslike ondernemings in die sentrale sakegebied het die afgelope naweek slagoffers geword van inbrekers. Voorverlede week is daar by vyf ander ondernemings ingebreek in dieselfde area. Die inbrake herinner sterk aan ‘n vlaag soortgelyke inbrake in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Die besighede wat  vandeesweek beroof is, is die Ackermans klerewinkel in Songozwistraat, Prestige Jewelers in Burgerstraat en nog ‘n winkel in die Spar-kompleks in Presidentstraat. Al hierdie ondernemings is redelik naby mekaar geleë en almal is vermoedelik Sondagaand beroof.

In die geval van Ackermans het die dief/diewe ‘n gat in die dak gemaak van die winkel. Toevallig of so beplan, maar dié gat is presies bo die winkel se alarmstelsel in die kantoor gemaak. Nodeloos om te sê, die alarmstelsel is eers gedeaktiveer voordat die kluis oopgesny is en die naweek se geld gebuit is. Daar word vermoed dat die dief/we ‘n hoekslyper gebruik het om die kluis mee oop te sny. Teen druktyd was die bedrag wat gesteel is nog nie bekend nie.

Die misdaadtoneel by Ackermans kon egter nie vergelyk met dit wat die eienaar van Prestige Jewelers, mnr. Riaan Engelbrecht, Maandagoggend begroet het nie. ‘n Gapende gat in sy winkelmuur, wat grens aan die Maranatha Sentrum, was die eerste teken dat daar moeilikheid was.

Binne sy winkel was daar totale verwoesting. Al sy vertoonkaste se glas is stukkend geslaan. Laaie is uitgeruk en kasdeure is oopforseer. Te midde van die chaos het Engelbrecht besef dat die booswigte sy eie gassnyer gebruik het om sy kluis oop te sny en leeg te dra. Die gassnyer het hulle vir hom gelos.

“Ek is platgeslaan soos wat ek hier staan,” het Engelbrecht oor en oor gesê, terwyl hy gewag het vir die polisie.

By Engelbrecht is die alarmstelsel ook eers gedeaktiveer voordat die kluis oopgesny is.  Al Engelbrecht se voorraad goud, silwer, ringe, kettings en versamelaarsmunte is gebuit. ‘n Mauser-jaggeweer, wat Engelbrecht van sy pa geërf het, is ook gesteel. Dié is gelukkig later, saam met ‘n paar juweelstukke, in digte bosse naby die biblioteek gekry. Dit is saam met ‘n paar skoene en ‘n oorpakbaadjie as bewysstukke deur die polisie bymekaar gemaak. 

Die onderneming in die Spar-kompleks se kluis is ook oopgebreek en kontant daaruit buitgemaak. Daar word vermoed dat meer as een bende verantwoordelik was vir die inbrake.

Soos genoem was daar verlede jaar hierdie tyd soortgelyke inbrake by talle plaaslike ondernemings. In omtrent al die gevalle is die winkels se alarmstelsels eers gedeaktiveer, voordat hul kluise oopgeskiet is. Die ondernemings het ingesluit Ocean Basket, NTK, PJ Timbers, Danedie Bouers en Ash Cash & Carry.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Dinsdag gesê die nuutste inbrake word ondersoek en dat nog geen arrestasies gemaak is nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines