ADVERTISEMENT:

 

Du Plessis-gesin verloor tweede dogter in padongeluk

 

News  Date: 08 August 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Vir die tweede keer in ses jaar treur die gemeenskap saam met 'n bekende gesin, hierdie keer weens die afsterwe van hul tweede dogter, die 18-jarige Antoinette du Plessis.

Antoinette, dogter van Martin du Plessis, voorheen bestuurder van Standard Bank, en Lynette, alombeminde onderwyseres, is op 1 Augustus omstreeks 14:00 op slag dood in 'n motorbotsing op die pad tussen Stellenbosch en die Paarl. 'n Aankomende voertuig het onverwags links gedraai, waarna een van die volgende voertuie na die regterbaan uitgeswaai het en op die nat pad gebots het teen die passasierskant waar Antoinette gesit het.

Op 29 April 1997 is Antoinette se ouer suster, Leonie, oorlede in 'n motorongeluk op die N1, 25 kilometer suid van Louis Trichardt.

Die moedige Du Plessis-gesin sê dat hoewel hulle dit nie verstaan nie, hulle aanvaarding het en vertroos word deur die krag van die Heilige Gees. Die gemeenskap se volgehoue ondersteuning en gebede beteken ook vir hulle baie. Antoinette is op 16 Augustus 1984 op Ellisras gebore. Haar skoolloopbaan het sy voltooi aan Laerskool Soutpansberg en Hoërskool Louis Trichardt. By beide skole was sy 'n lid van die leerlingraad. Sy word onthou as 'n sprankelende jong meisie, wat altyd vir elkeen 'n groet of 'n glimlag gehad het. Ten tye van haar afsterwe was Antoinette besig met die eerste jaar van haar studies as regsekretaresse aan die Boland Kollege in Stellenbosch. Sy was ook genomineer as Huiskomiteelid vir die Denne-oord Koshuis.

Antoinette word oorleef deur haar ouers, Martin en Lynette en haar broer, Martin, wat getroud is met Karey. Sy word op Vrydag, 8 Augustus, om 10:30 vanuit die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Die diens word waargeneem deur ds. Harm Bonnema.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines