

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 March 2013
Die Makhado polisie se besluit om summier ‘n man toe te sluit wat probeer het om ‘n klag te lê teen ‘n munisipale beampte wat klaarblyklik roekeloos bestuur het, het inwoners aan die gons. Dié voorval kom te midde van die vurige nasionale debat oor polisiebrutaliteit- en magsmisbruik.
‘n Bekende 60-jarige inwoner van die Ledig-plotte net buite Makhado (Louis Trichardt) is Maandag summier gearresteer en toegesluit, nadat hy ‘n klag by die polisie wou lê teen ‘n man wat na bewering roekeloos bestuur het, sy bakkie gestamp het en sy 22-jarige dogter se lewe in gevaar gestel het. Die voorval het Sondagmiddag op die Bandelierkop/Mara-pad plaasgevind.
Die man het volgens beskikbare inligting met sy bakkie agter sy dogter op haar perd gery toe drie mans in ‘n munisipale bakkie na bewering roekeloos by hulle verbygejaag het. Volgens inligting het die munisipale bakkie die man se bakkie skrams getref, sy dogter rakelings gemis en net aanhou ry. ‘n Jaagtog het klaarblyklik gevolg waarin die man daarin kon slaag om die munisipale bakkie in te jaag en voor te keer. Kort hierna het ‘n woordewisseling ontstaan tussen die betrokke partye.
Die man is laat Maandagmiddag deur die polisie gevra om na die aanklagkantoor te gaan op Bandelierkop, nadat die polisie glo eers geweier het om sy verklaring op die toneel te neem. Met die idee dat hy nou die kans gaan kry om sy verklaring in te dien, is die man polisiestasie toe. By Bandelierkop is hy egter gevra om na die Makhado polisiestasie te gaan. Met sy aankoms hier is hy in hegtenis geneem en in die polisieselle toegesluit.
Die man se prokureur het saam met ‘n staatsaanklaer tot in die middernagtelike ure gepoog om borg te kry vir hul kliënt, maar sonder sukses. Dit nadat die polisie se bystand-ondersoekbeampte, wat veronderstel is om ten alle tye bereikbaar te wees, nie bereik kon word nie.
Na verdere ingryping van die man se regsverteenwoordigers is hy eers Dinsdagmiddag voor die Louis Trichardt Distrikshof gebring, waar hy aangekla is van aanranding. Voor dit het alles daarop gedui dat die polisie van plan was om hom vir die volle 48 uur aan te hou, voordat hy voor die hof gebring moet word.
Die man het vlugtig verskyn, waarna hy op eie verantwoordelikheid vrygelaat is. Hy het nie gepleit nie en sy saak is uitgestel to 19 April vir verdere ondersoek.
Tydens die man se hofverskyning het dit aan die lig gekom dat die aanrandingsklag teen hom deur ‘n werknemer van die Makhado Munisipaliteit gebring is. Die werknemer, Wisani Tlhabela (34), het vandeesweek aan die Zoutpansberger se susterskoerant, die Limpopo Mirror, gesê dat hy verby die man in sy bakkie en die dogter op haar perd gery het, toe hy voorgekeer is.
Die man wat die bakkie bestuur het, het volgens Tlhabela hom ingejaag, uitgespring en hom met ‘n houtvoorwerp in die gesig geslaan. Wisani se ander twee kollegas, wat saam met hom in die bakkie was, het hulle voorman by die munisipaliteit geskakel, wat op sy beurt die polisie ontbied het.
Die burgemeester van die Makhado Munisipaliteit, rdl. David Mutavhatsindi, het hom sterk uitgespreek oor die voorval. Hy het ook ‘n beroep op die publiek gedoen om nie munisipale werknemers te pla terwyl hulle werk nie.
“Ons werknemers gaan onveilig voel as hulle hul pligte moet uitvoer en die munisipaliteit sal daarvan beskuldig word dat hulle nie hul dienste doeltreffend en effektief uitvoer nie,” het Mutavhatsindi Dinsdag gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
