ADVERTISEMENT:

 

My deur is oop vir klagtes, sê Stasiekommissaris

 

News  Date: 08 August 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Stasiekommissaris, Superintendent Festus Baloyi, het die publiek verseker dat sy deur altyd oop staan vir klagtes. Dit volg nadat moedeloosheid by lede van die publiek ontstaan het, weens die feit dat daar nie saaknommers toegeken is aan die sake wat hulle aangemeld het nie.

Mnr. SAS Otto van die Rondebosch hoewes ondervind dat diefstal by sy hoewe nou byna 'n daaglikse verskynsel is. Net hierdie jaar alleen het Otto, 'n werktuigkundige, al byna R100 000 skade gely aan diefstal van aluminium en toerusting. In die meeste gevalle het hy geen saaknommer gekry nie. Op 17 Februarie, asook op 18 Maart, het hy diefstalle aangemeld en geen saaknommers gekry nie, en ook in die daaropvolgende maande. "Op Vrydag, 11 Julie steel hulle 'n bakkievrag aluminium, twee ewenaars en boormasjiene en elektriese apparaat wat ek in Junie weens diefstal vervang het. Ek het geen saaknommer ontvang nie," sê Otto. Na inbrake op 14 sowel as 15 Julie, het Otto vir Supt. Baloyi geskakel en uiteindelik twee saaknommers ontvang. Hy kla egter dat opvolgwerk nie gedoen word nie.

Op 23 Julie is daar weer aluminium, suiers en sinkpunte gesteel. Otto vermoed dat 'n sindikaat die aluminium steel en smelt. Hy het ook 'n redelike vermoede wie sekere van die verdagtes is. Hierdie slag het speurders voetspore en 'n gipsafdruk van die bakkie se band kom neem. "Niks het verder gebeur nie. Verlede week is weer drie watertenkstaanders gesteel. Ek wil nie eers meer diefstalle rapporteer nie," het 'n moedelose Otto gesê nadat daar ook weer op 28 Julie 'n poging tot inbraak was.

Mnr. Poog Henning, van die omgewing tussen Elim en Bandelierkop, kla ook oor saaknommers. In 'n geval waar diewe met sy wagte in 'n geveg betrokke geraak het, het hy 'n saak gemaak en leidrade verskaf, maar nie 'n saaknommer ontvang nie. Mnr. Henning het wel 'n saaknommer ontvang ten opsigte van 'n saak waar 1,300m draad gesteel is oor die naweek van 25 Julie.

Supt. Festus Baloyi het nie die probleem ontken nie en op 29 Julie soos volg gereageer: "Ons doen definitief iets aan die saak. Ons het nou 'n offisier as skofbevelvoerder van elke skof by die aanklagkantoor. Dié offisier rapporteer aan die SAP Gemeenskapsdienssentrum se bevelvoerder, Supt. Mandie Davel." Supt. Davel het genoem dat wanneer polisiebeamptes uitgaan vir 'n saak, die saak nie dadelik 'n nommer kry nie. "Die sake word op rekenaar geregistreer. Daarna val die sake onder die speurafdeling, onder bevel van kaptein Seckle," sê supt.Davel. As stasiebevelvoerder rig supt. Baloyi 'n versoek tot die gemeenskap: "Ek is beskikbaar vir klagtes. Kom reguit na my kantoor toe. Die veiligheid van u eiendom is my prioriteit."

Supt. Baloyi sê dat hulle op 17 Julie 'n vergadering met die inwoners van die Rondeboschplotte gehou het. Hulle gaan ook sektor vir sektor vergader met die inwoners van al die verskillende hoewes en plase. Baloyi wou die misdaadprobleem hoofsaaklik oor die boeg van onwettige immigrante en persone wat hulle in diens neem, gooi, maar die feit dat baie leidrade lei na plaaslike inwoners het die onwettige immigrante as die enigste oorsaak van misdaad uitgeskakel.

Supt. Baloyi kan bereik word by tel. (015) 519 4300 of 082 565 7288.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines