

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Trop beeste in die pad na die Louis Trichardt Lugmagbasis het groot skade aan 'n splinternuwe voertuig aangerig, terwyl die insittendes gelukkig was om slegs ligte beserings op te doen.
Me. Madeleine van Niekerk, werksaam by ABSA en haar tienjarige seuntjie, Ignatius, het Vrydagaand, 25 Julie, na die Lugmagbasis gereis in haar nuwe CitiGolf wat sy die middag 14:00 ontvang het. Omstreeks 19:00 was hulle ongeveer 13 km van die N1 op die basispad, toe me. Van Niekerk oor 'n hoogte gery het. "Die volgende oomblik was daar 'n trop beeste oor die pad en een het op die masjienkap geval. Gelukkig het ek stadig gery," onthou me. Van Niekerk. Die nuwe motor was slegs vyf ure in haar besit, toe beeste in die pad die voorkant van die motor tot by die verkoeler verwoes het. Me. Van Niekerk vermoed dat die beeste oor die pad gejaag is deur 'n wagter, want sy kan onthou dat iemand direk na die ongeluk vir haar gevra het "Nonnatjie, is jy oraait?" Sy het hom nie weer gesien nie. Hulle is verder baie goed bygestaan deur persone vanaf die Lugmagbasis.
Beeste in paaie veroorsaak talle ongelukke in die omgewing. Die kantoor van die premier van die Limpopo provinsie het verlede maand ingegryp en 'n bedrag van R320 000 aan die Makhado Munisipaliteit beskikbaar gestel om dertien skutte in werking te stel. Verder sal beeseienaars hul wagters moet leer onderskei waar dit onveilig is om beeste oor die pad te jaag.

ADVERTISEMENT:
