

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 June 2002
LOUIS TRICHARDT - "Waarom moet ons dorpskinders wat maatskaplike probleme ondervind, altyd weggestuur word na ander dorpe?" Dit was die indringende vraag wat geopper is tydens 'n vergadering van die Christelik Maatskaplike Raad op Maandag, 24 Junie.
'n Kinderhawe is steeds 'n groot nood in die maatskaplike opset van die dorp.
"Kinders word deurentyd ontwortel, omdat hulle weggestuur moet word na ander dorpe," sê mev. Hester Beukes, senior maatskaplike werker van die CMR.
Verder skep die wegstuur van kinders ook baie vervoerprobleme. Daar is genoem dat so 'n kinderhawe selfs as 'n satelliethuis van die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom kan funksioneer. 'n Groot voordeel daaraan sal wees dat die kinders met beurse uit 'n trustfonds verder sal kan studeer. 'n Oproep word op lede van die gemeenskap gedoen om bystand te verleen om 'n geskikte huis te vind.
Die dringende behoefte aan fasiliteite vir maatskaplike probleme is ook onderstreep as gevolg van die behoefte aan 'n deurgangshuis of krisissentrum. Daar is genoem dat ander dorpe in die provinsie werk gemaak het van die skepping van sulke fasiliteite. 'n Deurgangshuis of 'n krisissentrum is 'n plek waar kinders of volwassenes met onmiddellike nood tydelik en veilig gehuisves kan word.
Toe tannie Sophie van der Litt nog gelewe het, het sy in daardie behoefte voorsien. Daarna het die Hawana Noor Huis op 'n stadium as deurgangshuis en sentrum vir straatkinders gedien, maar daar is kennis gegee om die gebou te verkoop. Tans is daar geen fasiliteit nie en dit gebeur dat die maatskaplike werker die kliënte in haar eie woning huisves.
Die behoefte aan 'n gebou waar die CMR 'n kinderhawe, krisissentrum en ander dienste kan bedryf, is ook op 'n spits gedryf as gevolg van hul nood aan kantoorruimte. Die nood het ontstaan nadat die Raad kennis ontvang het om die huidige kantoorruimte te ontruim.
Voorstelle rondom die oplossing van die probleem van 'n huis of perseel vir die CMR, kan gemaak word deur die kantoor te skakel by tel. (015) 516 5115. Die voorsitter van die CMR, dr. Phillip Venter kan gekontak word by tel. (015) 516 4377.

ADVERTISEMENT:
