ADVERTISEMENT:

 

´n Kragonderbreking Dinsdagoggend het inwoners vir etlike ure gefrustreerd gelaat. In die foto is ´n munisipale werker besig om die beskadigde hoogspanningskabel te herstel. Die kabel regs wat dwars tussen die hooflyn en die aanlynskakelaar loop, se eweknie links het afgebrand.

Kabel wat brand laat dorp in die duister

 

News  Date: 28 March 2013

 

Die soveelste kragonderbreking hierdie maand het inwoners van Makhado (Louis Trichardt) weereens gefrustreerd gelaat toe die elektrisiteit Dinsdagoggend vir etlike ure af was.

Die moderne samelewing se afhanklikheid van elektrisiteit is nogmaals duidelik by inwoners tuisgebring toe 'n hoogspanningdraad wat weens slytasie afgebrand het, Dinsdagoggend om omstreeks 10:00 die dorp se krag laat uitskop het. Herstelwerk aan dié skynbaar eenvoudige probleem, geleë net langs die munisipale skut, het etlike ure geneem.

Volgens die werkers wat besig was om aan die probleem aandag te gee, kon die probleem nie werklik verhoed word nie. Soos alle mensgemaakte materiaal wat daagliks in gebruik is, verweer hoogspanningsdrade ook met tyd. Hierdie betrokke draad het eenvoudig "genoeg gehad", oorverhit en uiteindelik afgebrand.

'n Verbyganger het die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling geskakel en gerapporteer dat die konneksie tussen die draad en die aanlyn skakelaar (onload switch) vonke skiet soos 'n sparkler - 'n vuurwerkstafie wat kinders in die donker aansteek en brand soos 'n ster.

Werksmense van dié afdeling het onmiddellik vertrek om aan die probleem aandag te gee, maar voordat hulle die probleemarea kon bereik, het die draad finaal afgebrand en die elektrisiteit uitgeskop. Slegs Uitbreiding 2, in die nuwe uitbreiding, het elektrisiteit gehad vir die duur van die onderbreking.

Die draad wat afgebrand het, was ‘n verbindingsdraad tussen die hooftoevoerlyn en die aanlynskakelaar – ‘n skakelaar wat aan en af geskakel kan word terwyl dit stroom dra. Teen druktyd was die krag steeds af.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines