

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 June 2002
BUYSDORP – Die verkiesing van 'n nuwe bestuurskomitee vir Buysdorp vind plaas op 29 Junie om 15:00 by die President Kruger Gemeenskapsaal.
Die Bestuurskomitee (BK) is 'n orgaan van die Familieraad op Buysdorp en word elke drie jaar verkies. Die ander organe van die Familieraad, buiten die BK, is die die Algemene Vergadering (AV), die Hoërhuis (HH), die Seremoniële Familiehoofde (SFH) en die Sekretaris (SK). Die komende verkiesing is die derde een, nadat 'n nuwe konstitusie vir die Buys-familie aanvaar is.
Diegene wat Saterdag mag stem, is elke familielid bo die ouderdom van agtien jaar wat 'n perseelhouer is of getroud is met 'n perseelhouer. Ander stemgeregtigdes is perseelhouers se afstammelinge (bo agtien) wat woon op die perseel van hul ouers, asook wettige eggenote van perseelhouers se afstammelinge wat saam met sy/haar eggenoot woonagtig is op die perseel.
Die werksaamhede van die BK behels onder meer die omsien na die belange van die familie in die portefeuljes vir klinieke, paaie, heinings, water, hondelisensies, jagpermitte, landerye, Hoërhuis, Algemene Vergaderings, begraafplaas en arbeideraangeleenthede.
Mnr. Naas Salem, huidige voorsitter, sê dat die komitee in hul drie- jaar termyn aan verskeie projekte aandag gegee het, soos brûe, paaie, die aankoop van beeste, 'n trekker en 'n skraper. Die huidige komitee bestaan uit mnre. Naas Salem, Dawid Buys, Tom Glade, Jan de la Rey, Paul Cohen en Willem Buys. Daar is nege kandidate wat staan vir die komende verkiesing.
Die plase Buishoek Nr. 54, Buisdorp Nr. 37, Buisplaats Nr. 51 en Mara Nr 38, behoort aan die Buysfamilie, die nageslag en afstammelinge van die stamvader Coenraad de Buys, wat ongeveer in 1760 gebore is. Die grond is aan hulle geskenk deur President Paul Kruger.

ADVERTISEMENT:
