ADVERTISEMENT:

 

Dertig jaar later kry Dok Beyers eindelik sy medalje

 

News  Date: 21 June 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Toe 'n presidentsmedalje dertig jaar gelede aan dr. Beyers van Rensburg toegeken is, het hy nooit kon dink dat dit 'n volle dertig jaar sou neem voor hy dit in ontvangs kon neem nie.

Dok Beyers, soos die oud-tandarts alombekend is, was in 1964 verkies tot president van die Vrystaatse Tandheelkundige Vereniging. Hy was in daardie stadium werksaam in Virginia in die Vrystaat.

"In 1972 is al die oud-presidente van die Tandheelkundige Vereniging na Bloemfontein genooi vir 'n spesiale okkasie," vertel Dok Beyers. Tydens die geselligheid is presidentmedaljes aan al die oud-presidente oorhandig. Hulle is egter gevra om dit terug te gee sodat die linte aangeheg kon word. Die medaljes sou later aan hulle gepos word.

Dok Beyers het gewag en gewag vir sy medalje, sonder enige sukses. Telefoonoproepe en briewe het ook net beloftes opgelewer en niks het gearriveer nie.

In Desember verlede jaar kuier Dok Beyers vlugtig op Virginia en loer by 'n aptekersvriend in. In die winkel word hy toe voorgestel aan dr. Pienaar wat tans tesourier van die Tandheelkundige Vereniging van die Vrystaat is. Die medalje kom weer ter sprake en dr. Pienaar beloof toe om op die saak in te gaan.

Dok Beyers het onlangs by sy kinders in Kanada gaan kuier. Met sy terugkoms was hy aangenaam verras deur 'n pakkie in die pos te ontvang vanaf die Vrystaatse Tandheelkundige Vereniging. In dié pakkie was 'n lapelwapen van die Vereniging wat destyds se medaljes vervang.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines