

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 April 2013
Tien mans wat daarvan verdink word dat hulle verantwoordelik was vir die vlaag brandkluis-inbrake in Makhado (Louis Trichardt) is in terme van ‘n hofbevel vrygelaat.
Die mans is in Oktober verlede jaar gearresteer in verband met die vlaag inbrake waartydens verskeie ondernemings se kluise opgeblaas is. Shumani Ludere (29), Sydney Ramovha (30), Elvis Tlou Moloto (36), Mcbangweni Ngwenya (25), Robert Tsheko (30), Mphasha Albert Manyusa (32), Kabelo Bhualo (24), Thomas Thpvhakale (55), Peta Mothiba (36) en John Rhamanzi Lufuno (50) is aangekla van vyf klagte van roof met verswarende omstandighede, die besit van springstof, en moord. Hulle het op Maandag, 18 Maart, in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn.
Die klag van moord teen die mans hou verband met die dood van die 34-jarige Prince Mbedzi, ‘n veiligheidswag van Gwala Sekuriteit, wat op 8 September verlede jaar vermoor is tydens ‘n mislukte rooftog by Eden Oil.
Die mans is in Oktober verlede jaar gearresteer, nadat hulle glo van die polisie probeer wegjaag het. Drie vuurwapens, waarvan die reeksnommers afgevyl was, en plofstof is tydens die mans se arrestasie as bewysstukke bymekaar gemaak. Die polisie het ook destyds op twee voertuie beslag gelê wat hulle vermoed het die mans tydens die inbrake gebruik het.
Die Zoutpansberger het in die Louis Trichardt Landdroshof se openbare rekords gaan naslaan, nadat dit verlede week in ‘n bekende streekskoerant berig is dat die mans vrygelaat is omdat die hof die dossiere verloor het. Uit dié rekords het dit aan die lig gekom dat die beskuldigdes se saak van die hofrol geskrap is omdat die saak reeds vir vyf maande sloer. Die dossiere was wel by die hof gewees. Dit was glo die ondersoekbeampte in die saak wat nie by die hof was nie.
Sedert die mans se inhegtenisname in Oktober verlede jaar is hul saak 12 keer uitgestel. Op 26 November het Tsheko en Bhualo nie saam met hul medebeskuldigdes verskyn nie. Derhalwe is die aanklagte teen hulle teruggetrek. Hierna, op 19 Desember, is Ramovha op R10 000 borg vrygelaat, ná ‘n dringende aansoek deur sy prokureur gebring is.
Tydens hul voorlaaste verskyning, op 8 Maart, is die saak finaal uitgestel na 18 Maart en al die mans se onderskeie prokureurs het onderneem om daardie dag by die hof te wees. Helaas, toe die ondersoekbeampte in die saak nie opdaag nie, het die prokureurs kapsie aangeteken en die hof meegedeel dat die saak nou te lank sloer. Die prokureurs het in die hof geargumenteer dat hulle reg is vir ‘n borgaansoek, maar dat die Staat en die polisie ‘n oponthoud veroorsaak deurdat die ondersoekbeampte nie opgedaag het nie en dat niemand die dossiere kon kry nie.
Dit het intussen, by navraag, ook aan die lig gekom dat die polisie nog besig was om die saak te ondersoek. Verskeie polisie-eenhede het gehelp met die ondersoek.
In lig van die prokueurs se argumente het die hof gelas dat die saak van die hofrol geskrap moet word. Al 10 mans is dieselfde dag vrygelaat.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
