ADVERTISEMENT:

 

generic image

Nog ‘n slapelose nag

 

News  Date: 08 April 2013

 

Inwoners van Makhado (Louis Trichardt) moes die afgelope naweek weer ‘n slapelose nag verduur danksy ‘n musiekfees op die munisipale skouterrein.

Onophoudelik en oorverdowend het die luidsprekers vanaf Saterdagaand tot byna dagbreek Sondagoggend geblêr, tot groot frustrasie van inwoners.

“Vir die oumense wat moes rus, veral in die siekeboeg, was dit baie erg. Party was heel verbouereerd en kon nie verstaan wat aangaan nie,” het mev. Alida Jongbloed, voorsitter van die Ons Tuiste Ouetehuis se bestuur, Dinsdag gesê. Die tehuis is ‘n paar honderd meter vanaf die skouterrein geleë.

Die geraas het egter nie net vir hulle gepla nie. Selfs inwoners van “Skuldbult” ‘n paar kilometer verder het wakker gelê as gevolg van die geraas, om nie eers te praat van die aangrensende Eltivillas woongebied nie.

“Baie mense het gekla en ek is self  baie ongelukkig. Teen 04:00 [Sondag] was daar steeds ‘n groot lawaai,” was mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, se kommentaar.

Een persoon, wat vir die naweek by sy ouers kom kuier het vanaf Johannesburg, was so ontsteld dat hy omstreeks 03:30 agter sy rekenaar gaan sit het en ‘n e-pos aan die Zoutpansberger geskryf het waarin hy sy lot bekla. Sy grootste frustrasie was met die Makhado SAPD. Volgens die man het hy om 02:41 die aanklagkantoor geskakel om te kla, maar die polisiebeampte aan diens het net minder as twee minute later die telefoon in sy oor neergesit, nadat die klaer wou weet met wie hy praat. Om 02:44 het hy weer geskakel en sommer met die intrapslag die beampte ingelig dat sy oproep nou opgeneem word. Dié keer, sê die man, het die polisieman se houding heeltemal verander en is hy meegedeel dat die polisie nie ‘n byeenkoms kan stop waarvoor die munisipaliteit toestemming gegee het nie. Nodeloos om te sê, niks het gebeur nie en die lawaai het rustig voortgegaan.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike is gevra vir kommentaar oor waarom die polisie nie opgetree het nie. Dinsdag het hy per e-pos laat weet dat hy geen bewys kan vind dat enige klagte oor die geraas by die polisie aangemeld is nie. Toe dit onder sy aandag gebring word dat dit bloot nie waar is nie en dat die Zoutpansberger in kontak is met ‘n klaer wat bewys kan lewer deur middel van sy telefoonrekords dat hy wel twee keer die polisie geskakel het, het Sadike gesê dat hy die klaer se besonderhede sal deurgee aan die waarnemende stasiebevelvoerder vir verdere ondersoek. Teen druktyd is daar steeds op die polisie gewag vir ‘n antwoord waarom hulle nie opgetree het nie.

“Ek kan nie glo dat die polisie nie klagte ontvang het nie,” het Meissenheimer hierop opgemerk.

Ingevolge die Makhado Munisipaliteit se eie munisipale verordening, getiteld Verstoring van Openbare Rus, onder hul Straat en Diverse verordeninge, mag “niemand die openbare rus in ‘n straat of publieke plek of op ‘n private perseel verstoor deur geraas te maak of deur ‘n geskree, stryery, vegtery, gesing of gespeel op enige soort musiekinstrument of grammofoon of deur middel van ‘n radio, luidspreker of dergelike toestel veroorsaak dat geraas gemaak word nie of deur oproerige, gewelddadige of onsedelike gedrag.” Verder aan in die verordening word genoem dat die polisie of ‘n gemagtigde beampte van die munisipaliteit (verkeersbeampte) by magte is om ‘n byeenkoms te stop indien daar rusverstoring plaasvind. Duidelik het dit nie gebeur nie.

Volgens mev. Inga Gilfillan, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, is dit duidelik dat die munisipaliteit nie eers gehoor kan gee aan hul eie munisipale verordeninge nie en sy meen die Makhado Munisipaliteit moet alleen verantwoordelik gehou word vir die lawaai.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners op so ‘n gereelde basis geteister word. Dit kan net nie so werk nie,” het Gilfillan gesê. Sy het verwys na die vele vorige gevalle waar die munisipaliteit toegelaat dat raserige byeenkomste op die munisipale skouterrein regdeur die nag kon voortgaan. Die Zoutpansberger het ook telkens die afgelope paar jaar hieroor berig,  met dieselfde verskoning elke keer vanaf die Makhado Munisipaliteit dat dit nie weer sal gebeur nie.

“Dit is tyd dat iemand die munisipaliteit dagvaar en aanvat hieroor,” het Gilfillan gesê. Sy meen dit vat net een persoon om op te staan en aksie te neem. “Ons sal daardie persoon heelhartig ondersteun,” het Gilfillan gesê. Sy het verwys na die moontlikheid om ‘n interdik teen die Makhado Munisipaliteit te kry om hulle te verhoed om toestemming vir soortgelyke toekomstige geleenthede op die skouterrein te verleen.

“Ons praat van R35 000 se koste om ‘n interdik te kry. Ons wou al baie interdikte teen mense kry, maar dit kos geld. Wie gaan die koste betaal van so ‘n interdik?” het Gilfillan gevra. Sy meen die oplossing lê daarin dat iemand uit die gemeenskap leiding neem en fondse insamel vir dié doel.

“Dan kan ons as georganiseerde deel van die gemeenskap hande vat met ander organisasies en die aksie dryf,” het Gilfillan gesê.

Die Makhado Munisipaliteit het by navraag bevestig dat hulle wel toestemming verleen het vir die hou van die musiekfees. Herhaalde versoeke vir ‘n afskrif van die voorwaardes waarvolgens die byeenkoms moes plaasvind, het egter teen druktyd steeds onbeantwoord gebly, behalwe vir ‘n belofte dat afskrifte aan die koerant voorsien sal word. Op die vraag of die munisipaliteit se na-uurse oproepsentrum enige klagte oor die naweek ontvang het met betrekking tot die geraas, het die munisipaliteit aangedui dat geen formele klagte ontvang is nie.

Die Zoutpansberger het ook kontak gemaak met mnr. Terrens Mokono van MTM Media wat die fees aangebied het. Dit is onder sy aandag gebring dat daar talle klagte was oor die geraas. Hy is ook gevra waarom die fees tot so vroeg Sondagoggend aangehou het.

Mokono was heel verontwaardig oor die koerant se navraag.

“Sê my, het julle ander positiewe terugvoer van die publiek, eerder as om op die negatiewe te konsentreer?” wou hy weet. Hy het die geraasprobleem grootliks toegeskryf aan die ligging van die skouterrein. Volgens hom was geraas vanaf die skouterrein in die verlede ‘n probleem en sal ook in die toekoms ‘n probleem wees en derhalwe was hy nie gelukkig dat sy fees in ‘n negatiewe lig uitgebeeld word nie.

Op die vraag waarom die fees so laat aangehou het, het hy gesê dat al hul voorleggings aan die munisipaliteit aangedui het dat die fees van 18:00 tot 06:00 sou duur. Hy het ook verwys na 'n vergadering van belangegroepe vooraf waar die publiek hul bekommernisse sou kon lig. Op die vraag wanneer en waar hierdie vergadering plaasgevind het, het Mokono gesê dat die munisipaliteit se Gemeenskapsdiensafdeling dit gereël het, maar dat die gemeenskapsverteenwoordiger wat uitgenooi is, nie opgedaag het nie. Dit is onduidelik wie dié gemeenskapsverteenwoordiger was.

Ongeag die verduideliking van die ligging van die skouterrein en die kroniese probleem van rusverstoring is Mokono weer gevra rondom die geraas. Sy antwoord hierop was: “Die vraag is, was daar enige lesing in terme van die geraas? Hoe groot was die geraas of was dit net iemand wat gehoor het daar gaan iets aan. Dit is irrelevant vir ons.”

Op die vraag of hy enigsins sleg voel oor die ongerief wat die geraas veroorsaak het, het Mokono gesê: “Sover voel ek niks, want ek is nie in ‘n posisie om die vraag te antwoord nie. Ek sal dit so probeer verduidelik: Ek sal slegs sleg voel as ek gedurende die feestydperk terugkom en vind daar is geen aktiwiteite in die area nie. Dit sal Makhado beroof van ‘n geleentheid om te groei.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines