ADVERTISEMENT:

 

Boere ongelukkig oor "ligte" vonnisse vir veediewe

 

News  Date: 21 June 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Talle boere het hul ongelukkigheid uitgespreek ten opsigte van vonnisse wat onwettige jagters opgelê word. In sommige gevalle word misdadigers swaar vonnisse opgelê vir kleiner oortredings, terwyl andere vir ernstiger oortredings ligter vonnisse ontvang.

Die ongelukkigheid ten opsigte van vonnisse het die afgelope week na vore getree. Op 5 Junie is 'n man, wat met behulp van jaghonde vier vlakvarke, een bosbok, twee rooibokke en 'n koedoe onwettig gejag het, tot 30 dae gevangenisstraf of 'n R800 boete gevonnis. In teenstelling hiermee is 'n ander man op 16 Junie gevonnis tot R2 500 of drie maande gevangenisstraf op 'n klag van die onwettige jag van 'n koedoe en vlakvark met behulp van draadstrikke. In nog 'n geval is 'n persoon wat bloot in besit betrap is van 'n vlakvarkkarkas, op 15 April gevonnis tot 'n R600 boete of twee maande gevangenisstraf.

In reaksie op die ongelukkigheid van boere het mnr. André Weidemann, hoofaanklaer van die streek, gesê dat mense versigtig moet wees om bloot een saak met 'n volgende te vergelyk. Hy het verduidelik dat die landdros baie faktore in ag neem wanneer daar besluit word ten opsigte van 'n vonnis. Dié faktore, sê hy, sluit ondermeer in die beskuldigde se finansiële status en persoonlike omstandighede. In kort, sê mnr. Weidemann, lê die finale besluit ten opsigte van 'n vonnis by die landdros. Selfs in gevalle waar die wet minimum vonnisse voorskryf, het die landdros steeds die reg om die vonnis te wysig soos om byvoorbeeld 'n opgeskorte vonnis op te lê.

Mnr. Weidemann het bygevoeg dat boere egter self 'n rol kan speel wanneer dit kom by vonnisoplegging. Hy sê boere moet staatsaanklaers versoek om te vra vir swaarder vonnisse in die hof. Hulle kan selfs in hofsake gaan getuig om hul probleem ten opsigte van verliese uit te lig. In sulke gevalle, sê mnr. Weidemann, kan landdroste swaarder vonnisse oplê of selfs die aangeklaagdes beveel om skadevergoeding te betaal.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines