ADVERTISEMENT:

 

Hospitaal spook steeds om dokters te kry

 

News  Date: 21 June 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Die moeder van een van die skoolkinders wat beseer is in 'n ongeluk op 19 Junie, het haar ongelukkigheid uitgespreek oor die skynbare swak diens wat haar dogter by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal ontvang het na die ongeluk.

Mev. Tendani Fambe, wat self 'n gekwalifiseerde verpleegster is, sê haar dogter, Edzisani (16), moes vir ure wag voordat sy 'n dokter kon sien. Sy het kruppel geloop na die ongeluk.

Die ongeluk waarin Edzisani beseer is, het die oggend voor skool naby Safari Motors plaasgevind toe 'n bakkie en 'n minibus, wat die skoolkinders na Eltivillas vervoer het, teen mekaar gebots het. Daar was elf kinders in die minibus en almal se ouers is na die hospitaal ontbied. Gelukkig het nie een ernstige beserings opgedoen nie.

Toestemming moes verkry word om 'n foto van Edzisani by die hospitaal te neem. Die Hoof Mediese Superintendent van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, dr. Kibuke Numbi, het die korrespondente te woord gestaan. Hy het moeg en oorwerk voorgekom. By navraag het hy bevestig dat die hospitaal oor die dienste van slegs drie dokters beskik, waarvan die een tans met verlof is. Bedags is daar slegs twee dokters aan diens. Snags is daar dokters in die privaatsektor wat kom uithelp.

Waar die hospitaal verlede jaar oor die dienste van twee senior permanente dokters en drie gemeenskapsdokters beskik het, is daar hierdie jaar geen dokters in hulle gemeenskapsjaar toegewys aan die hospitaal nie.

Dr. Numbi sê dat vyf dokters aan die begin van 2002 diens aanvaar het by die hospitaal, maar drie van hulle het reeds bedank. Hy skryf dit toe aan die feit dat hulle beter geleenthede elders gekry het. Hulle was almal jong dokters wat pas hul gemeenskapsjaar afgehandel het.

Verlede jaar in Oktober het die Zoutpansberger berig oor 'n onbevestigde voorval waar 'n pasiënt wat ernstig siek was in 'n rystoel by die hospitaal aangebring is en na etlike ure van tevergeefse wag, beswyk het voordat 'n dokter aan hom kon aandag gee.

Intussen is die begroting vir 'n vergrote buitepasiënte-afdeling en nuwe apteek alleen meer as R2 miljoen. 'n Totale opgradering van meer as R13-miljoen sal by die hospitaal aangebring word. Die vraag ontstaan of die opgradering 'n verhoging in die gehalte van mediese dienste aan die publiek teweeg sal bring as daar nie stappe geneem word om die tekort aan dokters reg te stel nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines