ADVERTISEMENT:

 

Sewe jaar na sy ongeluk, sê mnr. Hannes du Toit, ‘n elektrisiën van Musina wat ‘eintlik dood moes gewees het’, dat hy ietwat ontnugter is deur die regsisteem.

Nie doodgeskok nie, maar geskok in die regsisteem

 

News  Date: 11 April 2013

 

Sewe jaar na die ongeluk wat byna sy lewe gekos het, sê die 73-jarige mnr. Hannes du Toit van Musina hy is heel ontnugter deur die regsisteem.

Op 16 April 2006 het Du Toit, ‘n elektrisiën, ter nouernood aan die dood ontkom toe hy aan ‘n lewendige kragdraad gewerk het. Hy is gekontrakteer deur die Musina Munisipaliteit, wie se amptenare hom die versekering gegee het dat die kragdraad ‘dood’ was.

Na ‘n uitgerekte regsgeding meen Du Toit hy moes noodgedwonge ‘n skikkingsaanbod aanvaar. “Dit lyk egter vir my of die geveg eintlik begin ná die skikking,” sê Du Toit.

Die geveg vir sy lewe het hy genadiglik gewen. ‘n Stroom van 11 000 volt het ‘n gat so groot soos ‘n tennisbal uit Du Toit se linkerbeen geruk en ook ander ernstige brandwonde veroorsaak. Met die val van amper 10 meter het hy ‘n ernstige kopwond, nek en rugbeserings en ‘n beenbreuk aan sy regterbobeen opgedoen.

Operasies en mediese behandelings, besoeke aan regslui en deskundiges in die voorwêreld het gevolg en stadig maar seker was al Du Toit se spaar- en pensioengeld uitgeput. ‘n Oorwinning in die regsgeveg was die uitspraak van die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Februarie 2010 wat bevind het dat die munisipaliteit 100% nalatig was. Die munisipaliteit moes die regskostes van die eerste hofsaak dra, maar dit het ‘n besoek van die balju gekos voordat hulle betaal het.

Die volgende verhoor sou die bedrag (quantum) van die eis bepaal.

"’n Week of wat voor die quantum verhoor het die teenkant se versekeraar hulle advokaat verruil vir ‘n meer senior advokaat, adv. Booth. Die nuwe advokaat kon vir uitstel vra, omdat hy nie vertroud met die saak was nie. Hy kon my ook weer van voor af na al die dokters en deskundiges stuur en dit kon die saak vir nog twee jaar uitrek. Ek kon net nie meer aangaan nie, want dit is elke keer brandstof en verblyfuitgawes. Ek het die skikkingsaanbod aanvaar,” sê Du Toit.

Du Toit het sy berekenings gemaak en tot die slotsom gekom dat dit wat hy uitgekry het, gelykstaande is aan die bedrag wat hy aan onkostes spandeer het. “Ek het dus my onkostes in ‘n lompsom teruggekry. Ek is dankbaar daarvoor, want ek kon dit belê en ons kon aangaan met ons lewe,” sê Du Toit. Die saak is op 7 Oktober 2011 geskik. Na die skikking moes die kostes getakseer word en die daaropvolgende geveg en hoë regskostes het Du Toit ontnugter.

“Die regsisteem laat ‘n mens sekere dinge glo wat dan anders uitdraai. Jy dink jy gaan ryk uitstap, maar jy breek net gelyk,”  sê Du Toit.

Du Toit se prokureur, mnr. Leon Maré,  het hierdie week aan die Zoutpansberger  gesê dat ‘n eis gewoonlik hoog is en die skikkingsbedrag minder as die eis. “Ek dink nie die bedrag is ooit heeltemal voldoende nie, “ het Maré gesê. Hy het bygevoeg dat van die deskundiges geld geëis het waarop hulle nie geregtig was nie. “Die takseermeester besluit hoeveel die deskundiges gaan kry en het van hulle bedrae afgetakseer. Die een geskil is opgelos, maar die ander een nog nie,” het Maré gesê.

Du Toit is egter dankbaar dat hy ‘n oggendpos as faktotum by ‘n laerskool bekom het. “Ons kyk nie terug nie. Ek sê dankie dat ek gespaar is en dat ons deur die saak gedra is deur ‘n Hoër Hand. Ek het ook besluit dat ek nie die verdere operasies wat die neuroloog aanbeveel het, gaan laat doen nie,” sê Du Toit.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines