

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 April 2013
“O, ons het nie geweet dat daar nog ‘n waterprobleem in Makhado (Louis Trichardt) is nie!”
Hierdie gewraakte woorde van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) die afgelope week sal sekerlik menige inwoner verstom laat, veral diegene wat nie nek of lyf in ‘n bad water kan laat week nie. Die plaaslike voorsitter van Afriforum, Wally Schultz, het Dinsdag gesê dat hierdie woorde vanaf die VDM se kommunikasiekantoor hom rasend gemaak het.
Dit is nou amper vier maande na 15 Desember, die eerste amptelike datum waarop water uit die dorp se droë krane moes gevloei het. Dié datum is uitgespel deur die hofbevel van die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria wat AfriForum teen die munisipaliteite verkry het. Daarna is uitstel gegee en uiteindelik is 'n saak van minagting van die hof teen die munisipale bestuurder van die VDM aanhangig gemaak. Dié saak sal na verwagting einde Mei voorkom, nog ‘n maand en ‘n half ver.
Hoe lyk me. Anne-Marie Kuhne se waterkalender sedert 1 Maart? Kuhne is die eerste applikant genoem in die hofbevel en AfriForum die tweede. Volgens Kuhne se waterkalender was Devenishstraat naby die middedorp in Maart ‘n volle agt dae sonder een druppel water. Ander dae was daar net by tye water.
“Op 4 April was daar geen water nie, en op Vrydag 5 April, die dag waarop Vhembe gesê het dat hulle die water gaan afsit, was daar wel water die gewone tye. Die Saterdag was daar nie ‘n druppel water nie en vanaf Sondag tot Dinsdag water vanaf 06:00 tot 15:00. Op 18 Maart vanjaar was dit vyf jaar gelede dat ons laas water in die aande gehad het,” het Kuhne hierdie week gesê. Vir inwoners van die nuwe uitbreiding was die laaste dekade ‘n droë een.
Die Mowcop reservoir is volgens die VDM 22% vol. “Die chlorineerders by die vier nuwe boorgate is geïnstalleer en dié boorgate pomp reeds water in die sisteem in. Van die 14 boorgate wes van die dorp is daar sewe wat in ‘n werkende toestand is. Ons het pas die toerusting aangekoop om die ander te herstel, maar ek het nie die bedrag byderhand nie,” het mnr. Moses Shibambu van die VDM se skakelafdeling op 9 April aan die Zoutpansberger gesê.
Shibambu het ook gesê dat hy vir mnr. Phillip Olivier (sekretaris van AfriForum en bestuurder van die plaaslike belastingbetalersvereniging) gevra het om die dele te identifiseer waar daar nog probleme met watervoorsiening is. “Ons weet dat daar probleme met die hoogliggende dele is, maar ons wil weet van al die areas. Ons wil seker maak dat daar watervoorsiening op ‘n daaglikse basis is,” het Shibambu gesê. Hy kon nie sê wanneer die daaglikse watervoorsiening aan alle dele van die dorp herstel sal wees nie.
Intussen het Olivier gevra dat inwoners wat sukkel met watervoorsiening hul adresse op die onderskeie organisasies, soos AfriForum en die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, se webwerwe aanbring. Schultz beklemtoon dat spesifieke adresse en tye wanneer daar nie water is nie, verskaf moet word. Dit sal ook baie help as verskeie inwoners van verskillende dele van die dorp noukeurige waterkalenders byhou, soos die van Kuhne. Schultz het verder voorgestel dat die VDM ‘n kantoor in die dorp moet open, sodat hulle eerstehandse inligting en ondervinding van die watersituasie kan hê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
