ADVERTISEMENT:

 

Maandagoggend was die poskantoor se straatposbus in Erasmusstraat, voor Laerskool Louis Trichardt, nêrens te siene nie. Dit is later onder ´n hoop modder gevind in ‘n gat (pyl) . Daar is ook twee gate in die bussie gedruk, klaarblyklik met ´n trugrawer. Volgens ‘n ooggetuie was die bestuurder die waterafdeling se vroulike operateur.

“Sikloon Elisa” weer in die moeilikheid oor posbus

 

News  Date: 15 April 2013

 

Elke oggend maak die poskantoor getrou hul straatposbusse in Makhado (Louis Trichardt) leeg, maar Maandag (8ste) het daar ‘n verras­sing gewag by die straatposbus in Erasmustraat voor Laerskool Louis Trichardt … die posbus het verdwyn.
Mnr. Dries Rossouw, takbestuurder van die plaaslike poskantoor, is uitgeroep. Daar aangekom het hy gemerk dat die Makhado Munisipaliteit ‘n diep sloot op die sypaadjie voor die skool gegrawe het. Kort daarna is die raaisel van die vermiste posbus opgelos, toe dit in ‘n gat met grond bo-oor gevind is.
Gelukkig was die elektriese span op die toneel ywerig om Rossouw te help om die posbus uit die gat te haal en later in die poskantoor se voertuig te laai. Dié span is sedert verlede week besig om ‘n nuwe elektriese kabel voor die skool te lê. Die posbus is nie al wat in die werkers se ywer in die slag gebly het nie. Vrydag (5de) het hulle dit ook reggekry om ‘n waterpyp raak te steek. Weens die kroniese watertekort in die dorp het die lek eers Sondag begin wys toe daar vir ‘n slag weer water in die pype was. Dit was juis die munisipaliteit se waterafdeling se enigste vroulike tru-grawer operateur wat, in die proses om die waterlek reg te maak, die posbus met sementbasis en al ontwortel het. Sy het dit ook reggekry om twee gate in die posbus te steek. Buiten hiervoor is telefoonkabels ook beskadig en het die skool Dinsdag bevestig dat hulle telefone nou buite werking is.
Dié einste vroulike tru-grawer operateur, me. Elizabeth Ramagilela,  was al telkens in die nuus oor skade wat sy aan infrastruktuur aangerig het terwyl sy agter die stuurwiel gesit het. Die afgelope paar jaar kon sy daarin slaag om talle waterpype stukkend te steek,  oorhoofse kragkabels af te ruk en inwoners se opritte en sypaadjies te verwoes. Sy was ook die bestuurder van die tru-grawer wat ‘n jaar of wat gelede omgeslaan het in die park in Eltivillas toe daar in ‘n onwettige aksie gepoog is om van vullis ontslae te raak deur dit in ‘n sloot te gooi en toe te stoot. Weens al hierdie eskapades het dié vrou by menige inwoners die bynaam Sikloon Elisa gekry.
Rossouw het die polisie laat kom en die skade aan die posbus gerapporteer. Die Makhado Munisipaliteit het nie ‘n amptenaar van die waterafdeling uitgestuur om die skade te besigtig nie. 
“Die poskantoor het die saak van die beskadigde posbus in Erasmusstraat met die Stadsraad van Makhado bespreek en ons sal die saak só oplos dat dit die minste ongerief vir kliënte veroorsaak. Die poskantoor sal die posbus so gou moontlik vervang,” het mnr. Johan Kruger, kommunikasiebeampte van die poskantoor, Maandag gesê.
Vrae aan  die Makhado  Munisipaliteit oor die aangeleentheid was teen druktyd nog onbeantwoord.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines