ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Staatsveearts waarsku teen voorkoms van hondsdolheid

 

News  Date: 18 April 2013

 

Die Staatsveearts in Makhado (Louis Trichardt) het inwoners gewaarsku dat ‘n bevestigde geval van hondsdolheid in die dorp voorgekom het.

Hondsdolheid is ‘n dodelike siekte en daar is geen behandeling bekend vir mense en diere wat die siekte opgedoen het nie. Mortaliteit by mens en dier is 100%.

Volgens die Staatsveearts was daar verlede week ‘n voorval waar ‘n jong hond skielik baie aggressief begin raak het en ander honde begin aanval het. Twee inwoners is ook deur die hond gebyt en beide is tans onder behandeling. Die hond is na ‘n privaat veearts geneem waar genadedood toegedien is. Die dier se brein is na die Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut gestuur, wat die diagnose van hondsdolheid bevestig het.

Die Staatveearts het bevestig dat dit die eerste keer in ‘n baie lang tyd is dat hondsdolheid in die dorp gediagnoseer word. Hulle het ‘n beroep gedoen op die publiek om alle vreemde gedrag van mak en wilde diere met die grootste agterdog te bejeën en dit so gou moontlik aan die naaste veearts te rapporteer. Diereliefhebbers is ook ernstig gemaan om toe te sien dat hulle troeteldiere teen hondsdolheid ingeënt is. Intussen beoog die Staatsveearts om binnekort te begin met ‘n inentingsveldtog in die dorp en Tshikota en sal die datums en plekke van inenting so spoedig moontlik bekend maak.

Hondsdolheid is ‘n breinsiekte wat deur ‘n virus veroorsaak word. Die virus kom voor in die speeksel van besmette diere en word deur ‘n dier se byt aan mense oorgedra. Dit kan ook oorgedra word deur besmette ingewande of breine wat in mense se oë, monde of oop wonde spat. By mense is die eerste tekens van die siekte erge kopseer, angs, koors, naarheid en ‘n vrees vir water, en vat tussen twee tot 10 weke om by mense en diere te manifesteer. In die laaste stadiums kom verlamming voor, waarna die pasiënt in ‘n koma gaan en sterf.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines