

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 April 2013
Dit is met leedwese dat die gemeenskap van Makhado (Louis Trichardt) in minder as ‘n week vier lede verloor het, drie aan hartaanvalle. Die jongste van die vier was maar 34 jaar oud.
Baie in die gemeenskap is geraak deur die dood van hierdie geliefde familielede of vriende.
Bennie die Bruin (34), seun van die bekende Steven en Joey de Bruin van Bandelierkop, het omstreeks 03:00 Sondagoggend (14de) onverwags aan ‘n hartaanval beswyk. Hy laat sy geskokte en bedroefde eggenote, Petro, en twee jong kinders, Ronel (5) en Lizelle (3), agter. Bennie het op die plaas Brakspruit geboer en ook kontrakteurswerk gedoen.
“Bennie was altyd vol grappe, baie sosiaal en erg oor sy pelle. Hy het ook baie van sport gehou, om daarna te kyk en om deel te neem, veral krieket en rugby,” onthou Petro.
Wyle Bennie word op Vrydag, 19 April, om 15:00 vanuit die Hervormde Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe.
Vanessa Pretorius (39) is Sondagoggend in die Prognos mediese sentrum aan ‘n hartaanval oorlede. Baie sal haar onthou as die vriendelike kroegdame by die Rugbylapa. Vanessa se familie onthou haar as ‘n “baie opgewekte terggees, ‘n regte mense-mens wat met mense kan kommunikeer en daarvan hou om vriende te maak.” Sy laat haar vier kinders, Rudi (21), Ilze (18), Johan (17) en Justin (6), asook twee susters en een broer agter. Wyle Vanessa se kleindogter se geboorte is geskeduleer vir 17 April, drie dae na haar onverwagte afsterwe. Die begrafnisreëlings is getref vir Maandag, 22 April, om 11:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Kroghstraat.
Op Donderdag, 11 April, het die 47-jarige Jan van Graan ook aan sy hart beswyk. Jan is al die afgelope 23 jaar woonagtig in die omgewing. Hy het die afgelope 13 jaar by Multinet as projekbestuurder gewerk en het nog die vorige naweek herstelwerk by Laerskool Louis Trichardt gedoen. Voor Multinet was hy tien jaar as motorwerktuigkundige aan die plaaslike lugmagbasis verbonde. Jan was ook twee maal na Antarktika waar hy gehelp het met die bou van weerstasies.
“Niks was ooit te veel moeite vir Jan nie,” sê sy suster, Heloise van Tonder. Die bedroefde familie stem saam dat hulle Jan sal onthou as iemand wat regtig uit sy pad sou gaan om ander te help, soms ten koste van homself.
Jan laat sy eggenote, Carin, en twee kinders, Nicolene (11) en Dewald (9), agter. Carin is werksaam by P&L Hardeware, ook die werkgewer van Bennie se weduwee, Petro. Wyle Jan se roudiens is Dinsdag om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente gehou.
Ds. Gert Kruger (64), voorheen sendeling van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt, is op 11 April in sy huis by Siloamhospitaal oorlede, waar sy vrou Maartjie hoof van die laboratorium is. Ds. Gert was ‘n sendeling in die voormalige Venda vanaf 1980 tot 1989, waarna hy vir ongeveer nege jaar vir Rivoni, Old Mutual en Sanlam gewerk het.
“Gert het in 1980 as energieke jong man hier begin en hom ten doel gestel om die Vendataal sy eie te maak. Hy het dikwels as kampvegter vir die Vendas opgetree en was tot sy dood ‘n baie geliefde persoon onder die Vendamense. Gert het jarelank aan ‘n aftakelende siekte gely totdat die ernstige motor-neuronsiekte ‘n einde aan sy lyding gebring het,” sê me. Juliana Kruger, gesinsvriend en eggenote van mede-sendeling, ds. Piet Kruger. Tot ‘n paar weke gelede was Gert se plek nooit leeg in die kerk nie en het hy al drie eredienste (insluitende die Vendadiens) bygewoon.
Die gemeente sal hom onthou vir die Psalms wat hy uit sy kop en met duidelike genieting tot eer van God gesing het. Maartjie sal hom mis en sy en die familie bid dat sy werk in God se koninkryk ewige vrugte sal dra. Uit Gert en Maartje se huwelik is twee kinders gebore, Rendani (21) en Mashudu (19), wat albei in Pretoria studeer. Gert laat ook sy kinders Ian (37), Marijke (35) en Anika (32) agter. Marijke en Anika woon in Switserland.
Wyle Gert is Woensdag vanuit die Gereformeerde Kerk deur Prof. Koos van Rooy begrawe.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
