

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 April 2013
Daar was Dinsdag, net meer as twee weke ná die gru-gebeure by Elti Café in Makhado (Louis Trichardt), geen teken van lewe by die Patel-egpaar se winkel in Eltivillas nie. Alles was agter slot en grendel.
Die 62-jarige Musha Isap Ali Patel en sy vrou Hasina Muska Patel (60) van die Eltivillas-woonbuurt sê hulle is nog te bang om terug te keer na hulle winkel en huis. Die egpaar het Dinsdagoggend ‘n onderhoud aan die Zoutpansberger toegestaan by ‘n vriend se winkel.
Die trauma van die voorval en die ses dae wat hulle agter tralies spandeer het, was nog duidelik sigbaar op die Patels se gesigte. Hasina en Ali het met behulp van ‘n tolk vertel van hul nagmerrie-ondervind. Hulle is in aparte selle aangehou en het volgens hulle feitlik niks gehad om te eet nie. Hasina het vir dié ses dae net op swart tee oorleef en Ali op gewone kraanwater.
Na hul vrylating verlede Woensdag (10de) moes beide mediese behandeling ontvang. “Ons staan hulle nog by en probeer hulle oortuig om terug te gaan,” het nog ‘n vriend, mnr. Nasir Driver, Dinsdag gesê. “Hulle [die Patels] het nie enige familie hier om hulle by te staan nie.”
Die egpaar is op 5 April in hegtenis geneem nadat die 38-jarige Freddy Azwitamisi Tshikhudo die egpaar geïmpliseer het by die opspraakwekkende muti-moord in Makhado (Louis Trichardt). Tshikhudo is dieselfde dag in hegtenis geneem, nadat hy glo by hul kafee ingestap het en ‘n vermoorde vrou se voorarm begin rondswaai het. Hy het aanvanklik beweer dat die Patels hom gehuur het om die vrou te vermoor. Op 6 April het Tshikhudo polisiebeamptes na die lyk van die vermoorde vrou geneem in die veld op die hoek van Songozwi- en Cellierstraat.
Na sy eerste hofverskyning voorverlede Maandag, saam die Patels, het Tshikhudo ‘n tweede verklaring afgelê waarin hy glo erken het dat die Patels niks te doen gehad het met die moord nie en dat hy eintlik by hul kafee was om hulle te beroof. Kort daarna is die Patels vrygelaat.
Dinsdag het Ali aan die koerant gesê dat hulle nou in vrees lewe. “Ons is bang dat ons weer beroof gaan word,” het hy gesê.
Die egpaar, wat vier jaar gelede van Durban na Makhado (Louis Trichardt) verhuis het, bedryf hulle winkel hier die afgelope drie jaar. Hulle vrees nou dat hulle nie meer die kafee sal kan bedryf nie, omdat kliënte sal bang wees om die winkel te ondersteun.
Alhoewel hulle nog nie besluit het of hulle ‘n saak van onregmatige arrestasie teen die polisie wil indien nie, het die egpaar aangedui dat hulle omgekrap is oor die polisie se optrede. “Die polisie is veronderstel om ons te beskerm,” het Ali en Hasina gesê.
Hasina het vertel dat sy die dag van haar arrestasie alleen by die winkel was. Ali was by die kerk gewees toe Tshikhudo glo by die kafee opgedaag het en haar probeer beroof het. Hy het glo die arm, wat hy by hom gedra het, uitgepluk en Hasina daarmee begin dreig toe sy nie dadelik die winkel se geld aan hom wou gee nie. “Hoe kon sy? Sy verstaan bitter min Engels en kon nie verstaan wat hy vir haar gesê het nie,” het Driver gesê.
‘n Sekuriteitswag, wat oorkant die kafee op diens was, het die oproer by die kafee gehoor en Hasina te hulp gesnel. Dié wag het glo vir Tshikhudo oorrompel en in die kafee toegesluit, nadat hy daarin kon slaag om Hasina veilig uit die winkel te kry. Paniekbevange kliënte in die kafee het intussen die polisie ontbied. ‘n Omstander het ook vir Ali geskakel en gesê hy moet vinnig kom. "Hy het sommer kaalvoet terug huis toe gehardloop," het Driver vertel.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
