ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike AfriForum-takvoorsitter mnr. Wally Schultz (links), vergesel deur mnre. Phillip Olivier (middel) en Lampie Schoeman (regs), afgeneem voor die aanklagkantoor waar hulle verlede Vrydag 'n kriminele klag ten opsigte van rioolbesoedeling teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit gaan lê het.

AfriForum lê kriminele klag teen Vhembe

 

News  Date: 22 April 2013

 

AfriForum het die afgelope week besluit om ‘n kriminele klag te lê teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) met betrekking tot die voortgesette rioolbesoedeling van Makhado (Louis Trichardt) se dorpsriviere en ondergrondse watertafels.

AfriForum-takvoorsitter mnr. Wally Schultz, vergesel deur mnre. Lampie Schoeman en Phillip Olivier, het op 12 April by die plaaslike polisiestasie opgedaag met ‘n beëdigde verklaring in dié verband. Die polisie het hande in die hare gesit oor hoe om hierdie klag te hanteer.

Die verklaring lui dat die VDM nie ag slaan op die besoedeling van die ondergrondse of bogrondse waterbronne nie en dat die besoedeling ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou. AfriForum se hoof van omgewingsake, mnr. Julius Kleynhans, het in Februarie watermonsters kom neem. Die watermonster wat by die rioolstorting in die veld op die hoek van President- en Bredastrate geneem is, het getoon dat die E.coli-telling meer as ‘n miljoen eenhede per 100ml is . “Waar onbehandelde riool in ‘n natuurlike waterbron gestort word, mag die E.coli-telling nie hoër as 100 000 eenhede per 100ml wees nie. Indien die telling hoër is, is dit ‘n kriminele oortreding,” het Kleynhans gesê.   

Schultz het verklaar dat daar nie voete gesleep kan word met die herstel van die riool infrastruktuur wat by verskeie punte, insluitend woongebiede, industriële gebiede en skole uitloop nie.

AfriForum se verklaring is op twee wette gebaseer.  Volgens die Grondwet  (Wet 108 van 1966, Artikel 24) het almal die reg tot ‘n omgewing wat nie hulle gesondheid bedreig nie en moet die omgewing bewaar word vir die toekomstige generasies deur redelike wetgewing. Dié wetgewing moet besoedeling voorkom. Ingevolge die Nasionale Waterwet (Wet 35 van 1998, Artikel 151 (1) en (2) mag geen persoon ‘n waterbron aktief of deur versuim besoedel of nadelig affekteer nie. So ‘n persoon is skuldig aan ‘n misdryf met ‘n boete en/of tronkstraf van maksimum vyf jaar  vir ‘n eerste oortreding. Die tronkstraf vermeerder na maksimum 10 jaar vir daaropvolgende oortredings.

Die hof kan ook skadevergoeding toestaan, sou enige persoon skade ly weens die optrede van enige persoon wat in stryd met die bepalings van die waterwet optree ( Artikels 152 en 153).

Die SAPD is versoek om voort te gaan met ondersoeke teen die VDM en hul munisipale bestuurder, mnr. Masala Makumule. “Ek versoek derhalwe die SAPD om in terme van die Grondwet en Nasionale Waterwet … op te tree en toe te sien dat die omgewing nie besoedel word nie,” lui die verklaring deur Schultz onderteken.

Die plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadiki, het Dinsdag bevestig dat die saak wel deur die polisie geregistreer is en dat ‘n ondersoek onderweg is. Hy kon egter nie sê wat presies die klag is wat deur die polisie geformuleer is nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines