ADVERTISEMENT:

 

Passie vir vlieg kos twee hul lewens

 

News  Date: 01 August 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Alhoewel hul passie in die lewe hul einde beteken het, is familielede en vriende dit eens dat dit presies is hoe die 40-jarige Manie du Plooy en 56-jarige "Rafels" Haefele dit sou wou gehad het.

Manie en Rafels (soos wat sy vriende en familie hom genoem het) is Saterdag (26ste) omstreeks 17:30 op slag dood, nadat hulle met Manie se mikroligte-vliegtuig 'n paar honderd meter oos vanaf die munisipale vliegveld neergestort het. Manie het Saterdag die eerste vlugte met die betrokke vliegtuig gevlieg, nadat hy dit sowat 'n maand gelede gekoop het. Dit was egter nie sy eerste vlug die dag nie. Hy het vroeër die middag reeds 'n paar ander vlugte gevlieg. Die noodlottige ongeluk het tydens sy sesde vlug plaasgevind.

Ooggetuies vertel dat hulle gesien het hoe die mikroligte-vliegtuig op 'n hoogte van sowat 'n 1 000 voet skielik buite beheer afwaarts begin spiraal het. Dit het oomblikke later agter bome verdwyn. Almal het gehoop dat hulle weer die vliegtuig agter die bome sou sien uitklim, maar al wat gevolg het was 'n harde slag.

Wimpie, Manie se broer, was ten tye van die ongeluk saam met 'n vriend van hom in 'n tweede mikroligte-vliegtuig. Hul plan was om oor die skou te gaan vlieg. Met die nuus van die ongeluk het hulle egter terug gedraai. "Ons het oor die ongelukstoneel gevlieg, maar ek kon sien…daar is geen lewe daar onder nie," vertel Manie.

Wimpie praat met groot lof van sy broer en sê die omstandighede wat gelei het tot die ongeluk, bly vir hom 'n raaisel. Manie was nie net 'n uiters bekwame vlieënier nie, maar het ook gespog met 'n briljante meganiese kennis oor vliegtuie. Hy het deur die jare verskeie mikroligte-vliegtuie help bou en ook self gebou. Manie en Rafels se vriendskap as vliegmaats strek oor 'n periode van drie jaar. Hul vriendskap rondom vliegtuie en die vliegkuns was so sterk dat mense na hulle as pa en seun verwys het. Buiten hul passie in die lewe om self te vlieg, het hulle ook saam radiobeheerde modelvliegtuigies gebou en gevlieg. Manie was die stigterslid van die Soutpansberg Modelvliegtuigklub en was tot met sy dood hoofinstrukteur by die klub. Hy sal ook onthou word vir sy betrokkenheid by die plaaslike munisipaliteit, waar hy as kontrakteur vir die afgelope nege jaar elektriese meterlesings op plase gedoen het.

Rafels sal onthou word vir sy betrokkenheid op LMB Louis Trichardt, waar beide hy en sy vrou, Marie, werksaam was by die AMG-afdeling. Hy was ook 'n bedrewe radioamateur, maar sy liefde het by vlieg gelê. Hyself het gevlieg, asook sy pa en broer. Sy broer was ook ondermeer gedurende die sestiger jare sekretaris van Burger Lugvaart.

"Rafels het baie keer gespot dat hy onderstebo aan 'n deurkosyn sal hang, net om sy voete van die grond af te kry," vertel Marie met 'n glimlag. Rafels (Haebes Wilhelm) word oorleef deur sy vrou, vier dogters (Ronelle, Natarchia, Michelle en Lynette) en ses kleinkinders. Hy word Vrydag (1ste) om 11:00 vanuit die Ou Apostel Kerk in Kroghstraat begrawe.

Manie word oorleef deur sy ouers (Stoffel en Cato van Heidelberg), vrou (Charmaine), drie kinders (Nadine, Ronel en Christo), broers (Wimpie, Stoffel en Tobie) en susters (Rina en Cornelia). Hy word Donderdag (vandag) om 14:00 vanuit die PPK-gemeente begrawe.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines