

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 August 2003
MAKHADO (LOUIS Trichardt) – 'n Verligte mnr. Deon Lubbe, 'n boer van die Bandelierkop-omgewing, het verlede Vrydag skotvry uit die plaaslike landdroshof gestap, nadat die Staat besluit het om alle klagte van poging tot moord teen hom terug te trek.
Sy verskyning in die hof hou verband met 'n voorval op sy plaas aan die einde van Junie. Mnr. Lubbe het gedurende die middernagtelike ure 'n trop opgeleide jaghonde op sy plaas betrap en hulle met sy haelgeweer vankant gemaak. Die volgende dag, toe hy die saak by die polisie gaan aanmeld het, moes hy met skok verneem dat die groep onwettige jagters, wat klaarblyklik in die bosse agter die honde geskuil het, klagtes van poging tot moord teen hom gelê het. Mnr. Lubbe is gearresteer, waarna hy in die hof verskyn het en op R1 000 borgtog vrygelaat is. Landdros Marcel Roos het tydens mnr. Lubbe se verskyning in die hof verlede Vrydag gesê dat die Staat besluit het om hom nie te vervolg nie en dat alle klagte teen hom teruggetrek word. Intussen het vyf van die ses onwettige jagters wat by die voorval betrokke was, op Vrydag, 18 Julie skuld erken op klagte van onwettige jag. Hulle is elk 'n boete van R1 300 of twee maande gevangenisstraf opgelê. 'n Sesde verdagte sal op 1 Augustus in die hof op Bandelierkop verskyn.
Die Soutpansberg Distrik Landbou-unie het hul tevredenheid uitgespreek teenoor verlede Vrydag se hofuitspraak. Hulle was egter baie krities teenoor die polisie vir hul optrede in die saak.
Mnr. Gideon Meiring, vise-voorsitter van die Soutpansberg DLU, het gesê dat die Lubbe-fiasko net nog 'n voorbeeld is van die SAPD of 'n individu wat hul mag misbruik Dit lei tot 'n vinnig- groeiende persepsie van treitering, veral teenoor boere. Hy het na soortgelyke gevalle, soos die sake teen homself, Johny Grayson (9 Junie 2002) en Elmar Uys (25 Maart 2002) verwys en gesê dit is tipiese voorbeelde van die SAPD se kwaadwilligheid. Hy het ook verwys na die wyd gepubliseerde gevalle op Bandelierkop waarby mnre. Gert van Zyl en Alex Nel betrokke is en tot die dood toe gefrustreer word met leë beloftes dat daar opgetree sal word teen onwettige jagters. Mnr. Meiring het gewaarsku dat dié situasie op konflik afstuur en dat die skuld daarvoor direk voor die deur van die SAPD gelê kan word.
"Die jongste bespiegelinge met betrekking tot die rede vir plaasmoorde is onnodig en 'n bluf. Die rede en oorsaak lê voor die deur van die regering (op alle vlakke) wat nie kan, of doelbewus nie wil, optree om die lewe en eiendom van Jan Publiek – veral die boer – te beskerm nie. In die proses word 'n klimaat geskep waarin misdaad, met die klem op plaasaanvalle, wildstropery en geweldsmisdaad, gedy. Waar 'n individu of groep wel optree om hulself en hul eiendom te beskerm, word hulle oornag die krimineel en verskuif die onus sito-sito na laasgenoemde om, met groot koste en ongerief, hulle onskuld te bewys, met die werklike krimineel ver op die agtergrond," sê mnr. Meiring.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
