

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 April 2013
Rioolstortings in die industriële gebied van Makhado (Louis Trichardt) is nie ‘n nuutjie nie.
In 2011 moes ‘n sakeman, mnr. Dennis Gilbert, ‘n interdik teen die munisipaliteit kry voordat doeltreffende aandag aan die saak gegee is. Hierdie slag het die munisipaliteit reaksie getoon, maar die infrastruktuur in die proses beskadig.
Voor die perseel van Specialised Oil Extractions in Industriastraat is nie alleen ‘n dam riool nie, maar die munisipale tru-grawer het ‘n derde van die mangat uitmekaar gebreek.
Mnr. Phineas Malema, die fabriek se bestuurder, sê dat hy die munisipaliteit gereeld skakel omdat die riool weer die afgelope ses weke by die munisipale lyn uitloop. “Hulle kom met ‘n span vroumense wat hulle onder die boom laat sit. Dan vat hulle die kar en weg is hulle,” sê Malema en wys die hoop stene wat afgelaai is voordat die span ‘n ander keer vertrek het.
Gilbert verduidelik dat die munisipaliteit die sement mangatdeksel gekry het, maar in die proses die stene waarmee die mangat gebou is, uitgeruk het. “Die ander probleem is dat die riool teen die wande van die mangat opbou. Die munisipaliteit laat na om dit skoon te maak voordat hulle die rioolpyp oopsteek en dan val die droë riool weer in die pyp,” sê Gilbert. Hulle wag dat die munisipaliteit die mangat weer met die stene moet opbou.
Intussen het werknemers van die fabriek ‘n sloot teen hul grensdraad gegrawe wat die riool al om die kante van die fabriek en deur ‘n hoek binne die fabriek neem voordat dit in die veld en die stormwaterstelsel beland.
Malema het daarop gewys dat die fabriek produkte soos avokado- en makadamia-olie uitvoer en hul lisensies kan verloor as gevolg van die munisipaliteit se ondoeltreffendheid.
Die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, het op 23 April gesê dat die navrae aandag geniet. Die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, het hierdie week die Zoutpanberger gekontak om mnr. Dennis Gilbert se kontaknommer te vra.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
